Die medevlieënier van Germanwings se vlug 4525 het op ’n vroeëre vlug daardie oggend in Maart na Barcelona ’n beheerde daling probeer uitvoer voor die vliegtuig op pad terug na Duitsland teen ’n berg vasgevlieg het, sê Franse ondersoekers van vlugongelukke in ’n nuwe verslag.
#Germanwings pilot Andreas Lubitz practiced descent on previous flight, investigators confirm http://t.co/EwjEdGN25X pic.twitter.com/SA6LVu83E0
— BBC Breaking News (@BBCBreaking) May 6, 2015
Volgens die verslag blyk dit die vlieënier het ook tydens daardie vlug die stuurkajuit verlaat.
Stuurkajuitdata toon hy het die vliegtuig vyf keer binne vier en ’n half minute in daalmodus geplaas tydens die vlug van Düsseldorf na Barcelona.
Die verslag is nog net voorlopig.
Die BEA sê hulle hou aan kyk na die “sistemiese tekortkomings wat dalk tot die ongeluk of soortgelyke voorvalle kon gelei het.”
Die ondersoekers sê hul hooffokus is op “die huidige balans tussen mediese vertroulikheid en vlugveiligheid” en die “kompromieë” wat oor veiligheid gemaak is ná die aanval op 11 September in Amerika – veral aan die sluitstelsels van stuurkajuitdeure.
Die Lufthansa-woordvoerder Helmut Tolksdorf sê die lugdiens het nog nie tyd gehad om die nuwe besonderhede te ontleed wat die Franse owerheid bekendgemaak het nie en beplan nie om onmiddellik kommentaar te lewer nie. Lufthansa is die moedermaatskappy van Germanwings.
Die aanklaers het voorheen gesê Lubitz het die vliegtuig op 24 Maart opsetlik in die Franse Alpe laat neerstort tydens sy retoervlug van Barcelona na Düsseldorf. Die 150 mense aan boord het almal omgekom.
Bronne: The Telegraph, CBS News, BBC