Katie Holmes se veiligheidspan is bekommerd dat Sciëntoloë die aktrise en haar dogter agtervolg.
Fotograwe op die stel van Katie (34) se jongste rolprent, Miss Meadows, is op Maandag 25 Augustus in Ohio deur ’n veiligheidswag genader wat wou weet of hulle tot die Kerk van Sciëntologie behoort.
Volgens die MailOnline het die wag gesê Katie se veiligheidspan is aangesê om hul “oë oop te hou vir enigiets verdags en om dit aan te meld”.
Nadat die donkerkopskoonheid se veiligheidspan van ses oortuig was dat die fotograwe nie Sciëntoloë is nie, het hulle ontspanne gelyk en die ster van die basiskamp na die rolprentstel laat stap.
’n Fotograaf het verduidelik: “Toe die veiligheidswagte hoor ons wil net foto’s neem, het dit gelyk of dit ’n verskil gemaak aan hoe Katie en die sewejarige Suri (Katie se dogter) rondbeweeg. Voor dit is Katie direk na ’n voertuig begelei en ons het haar skaars gesien, maar daarna het sy minder angstig gelyk.”
Katie se woordvoerder het sedertdien ontken dat haar span op die uitkyk was vir Sciëntoloë.
Katie het ’n Sciëntoloog geword nadat sy en Tom Cruise (51), Suri se pa, getroud is, maar daar word beweer konflik oor geloofsake het veroorsaak dat hulle verlede jaar geskei is.
Die Kerk van Sciëntologie is deur die Amerikaanse wetenskapsfiksieskrywer L. Ron Hubbard gestig. Hy beweer ruimtewesens is deur die intergalaktiese heerser Xenu na die planeet Aarde gestuur en toe is die wesens met waterstofbomme opgeblaas. Hierdie ruimtewesens se siele het hulle daarna aan mense vasgeheg en probleme veroorsaak wat die geluk van mense beïnvloed.