Kenners maan die internet nader ’n “kapasiteitknyp”, want dit kan nie tred hou met die voortdurende vraag na immer vinniger data nie.
Volgens prof. Andrew Ellis, van die Aston-universiteit in Birmingham, kan die dreigende krisis nie langer ignoreer word nie.
“Ons begin die punt in die navorsingslaboratorium bereik waar ons nie meer data by ’n enkele optiese vesel kan byvoeg nie. Die ontplooiing na die mark daarbuite is sowat ses tot agt jaar by die navorsingslaboratorium agter. Binne agt jaar sal dit dus verby wees. Ons sal nie meer data kan inpas nie,” het hy aan die Daily Mail gesê.
As die internet “vol” word, kan ons boonop met ‘n onbetroubare en duurder internet opgesaal wees.
“Die vraag haal toenemend in. Dit groei met rasse skrede en dit word ál moeiliker om voor te bly. Tensy ons vorendag kom met radikale idees, gaan ons die kostes drasties sien styg,” het Andrew gesê.
Spesialiste uit verskillende velde sal later die maand by die Royal Society in Londen vergader om te bespreek wat gedoen kan word om die onvermydelike webkrisis te voorkom.
’n Optiese kabel bestaan uit deurskynende stringe wat in data of inligting omskep word.
Bronne: mirror.co.uk, dailymail.co.uk, rt.com