“Sjoe! Wat ’n ongelooflike mooi kar.” Jy gaan dit baie hoor as jy Ford se nuwe Fusion aanskaf.
Met die Ranger wat seker loshande die gewildste Ford op Suid-Afrikaanse paaie is en die nuwe Mustang wat na ons landsgrense op pad is, is die Amerikaners vining besig om weer veld te wen in die RSA.
Soos in die 80’s toe Cortinas en Grenadas ons land se paaie vrot gery het, gaan Fords weldra weer so doen. Dis nou te sê as die nuwe Fusion so goed gaan vaar soos ek vermoed.
Mooier kon hy, myns insiens, nie. Pragtige lyne gekombineer met mooi ligte en ’n Aston Martin-agtige sierrooster maak hom die mooiste motor in sy klas. Selfs die intreevlak, wat ons getoets het, skop stof in die oë van sy mededingers.
Die bekroonde EcoBoost-enjin word, soos met al Ford se nuwe motors, hier ingespan as kragbron. Baie is al geskryf oor dié wonderlike kragbron. Hierdie keer doen hy diens in 1,5 L-gewaad.
Nes ek, dink jy dalk die 1,5 L gaan ’n bietjie lig in die broek wees, maar ek verseker jou dit voel veel meer na ’n warm 2 L- enjin onder jou voet. Kraglewering is uitstekend. Die outomatiese ratkas ook.
‘Dié statige perd verander blitsvinnig in ’n aggressiewe monster.’
Dié statige perd verander blitsvinnig in ’n aggressiewe monster wanneer jy harder begin trap met jou regtervoet. Asof die skop in jou rug nie genoeg is om jou adrenalien op te stoot nie, moet jy net luister na daai brul van die enjin. 1,5 L? Nooit.
Brandstofverbruik is ietwat swakker as wat ek verwag het: 8,2 L gemiddeld op ’n gekombineerde roete is effens swakker as Ford se toetstotaal van 7,4. Ek beskuldig natuurlik die swaar verkeer en nie my gretige regtervoet nie . . .
Ruimte? Daar is volop, en dis mooi uitgelê. Die kajuit is ruim en mooi; nie so mooi soos die motor se buitekant nie, maar heel dis baie nuttig wanneer agteruit moet ry met dié die lang voertuig.
’n Mens kan ook drie skurke vasbind in die kattebak en hulle gaan nie te veel kla oor te min plek nie. Dit is natuurlik die gevolg van ’n Marie-beskuitjie-spaarwiel. Ek verkies ’n volwiel, maar die ekstra ruimte sal met vakansie nuttig te pas kom.
Slotsom
Die mooiste Ford-sedan tot dusver. Uitstekende enjin en hope ruimte. Ek sou nou een gaan koop het as ek kon, wat my laat wonder oor die lengte van die waglys. Mmm.
- MODEL Ford Fusion 1.5 EcoBoost Trend
- PRYS R376 720
- ENJIN 1,5 L-petrol; 132 kW, 240 Nm
- RATKAS 6-gang outomaties
- VERRIGTING 0-100km/h 9,2 sek. Topspoed: 218 km/h
- VERBRUIK 7,4 L/100km gekombineerde siklus volgens die vervaardiger; 8,2 L/100km getoets deur Huisgenoot
- MEDEDINGERS Volkswagen CC, Mazda 6
- ONS HOU VAN Pragtige ontwerp buite
- DIT PLA Klein Marie-beskuitjie-noodwiel
- Anton Vermeulen