Baie van ons het eens op ’n tyd een gehad en etlike sweer steeds hoog en laag dit was die beste selfoon wat hulle al besit het.
Hard to trace Mobile from 1990s makes comeback as Nokia 8210 proves popular for drug dealers http://t.co/an3blfyaT7 pic.twitter.com/a8qvevJLt7
— David Elio Malocco (@DavidMalocco) April 30, 2015
Nou maak die immergewilde Nokia-fone van die laat 1990’s ’n terugkeer, maar dalk nie om die eerbaarste redes nie.
Dwelmsmokkelaars, veral in die Verenigde Koninkryk, soek deesdae spesifiek die ou Nokia-modelle om hul sake mee te doen.
Dwelmsmokkelaars, veral in die Verenigde Koninkryk, soek deesdae spesifiek die ou Nokia-modelle om hul sake mee te doen. Dit is glo omdat modern fone met Wi-Fi en Bluetooth dit te maklik vir die owerheid maak om jou oproepe af te luister.
Die GPS-toestelle in modern fone maak dit ook maklik vir die polisie om jou op te spoor, iets wat hierdie smokkelaars natuurlik nie graag wil hê nie.
Daarom verkoop die ou fone sonder enige internetverbinding nou soos soetkoek oral in Brittanje. Eienaars van pandjieswinkels sê die fone word verkoop so gou iemand een kom verkoop.
“Ons weet nie waarvoor die fone gebruik word nie, maar ons vra ook nie te veel vrae nie,” het ’n eienaar gebieg.
Buiten die feit dat die fone dit moeiliker maak om jou op te spoor, is die lang batterylewe ook ’n groot trekpleister.
Die gewilde Nokia 8210 se battery kan tot 150 uur hou. Dis bykans ’n hele week.
Toe dit in 1999 uitgereik is, was die Nokia 8210 die beste en kleinste foon op die mark. Daar is omtrent ’n bohaai daaroor gemaak toe dit die eerste keer by die Paryse Modeskou bekendgestel is.
As jy dus een van die ou fone iewers in ’n laai weggebêre het, moet jy dalk oorweeg om dit by jou naaste pandjieswinkel te gaan verkwansel. Moet net nie vra waarheen dit van daar gaan nie.
Bronne: Mirror.co.uk; Business Insider