’n Agtjarige leerder aan die Laerskool Standerton is Maandagoggend onverwags dood nadat hy geval het.
Divan Joubert, wat in gr. 1 aan dié laerskool was, het volgens ’n verklaring deur die skoolhoof, Rudi Hamman, op die skool se Facebook-blad op die skoolterrein gestruikel en geval.
Volgens Netwerk24 is hy daarna glo deur sy maats opgehelp, maar hulle het gesien dat hy baie swaar asemgehaal het.
Volgens die Facebook-verklaring is niemand nog seker waaraan Divan dood is nie.
“ ’n Nadoodse ondersoek sal gedoen word om die oorsaak te bepaal.”
Hamman sê toe Divan wéér inmekaarsak, het ’n gr. 7-leerders hom ook probeer help en personeellede is ontbied.
Noodhulp is op die seun toegepas voordat hy na die huis van ’n dokter wat langs die skool woon, geneem is.
Dié dokter het Divan dood verklaar.
Divan laat sy ouers, Marlene en Leon, en ’n sussie, Zoë, agter.
Mpumalanga se department van onderwys het ’n ondersoek na die voorval gelas.