Jou gaste sal dié heerlike pesto-Kiëf nie kan weerstaan nie. Dis boonop vinnig en maklik om te maak.
Lewer 8 – 10
Bereiding: 15 min.
Gaarmaak: 8 min.
PESTO
300g bevrore ertjies, ontvries
70g pecorinokaas, gerasper
’n hand vol basilieblare
60 ml (¼ k) suurroom
45 ml (3 e) olyfolie
sout en peper
HOENDER KIËF
4 hoenderborsies
sout en peper
1 ui, gekap
500 ml (2 k) meel, gesif
2 eiers
250 ml (1 k) broodkrummels
olie vir braai
- Begin deur al die pestobestanddele in ’n voedselverwerker te sit en te verwerk tot glad. Die mengsel moet die dikte van vla hê. Sit dit in die koelkas.
- Plaas die hoender, sout, peper en ui in ’n voedselverwerker en verwerk tot glad. Werk met nat hande en skep ’n groot eetlepel vol van die hoendermengsel in die palm van jou hand en druk dit sagkens ’n bietjie plat.
- Skep nou ’n plat teelepel vol van die pestomengsel in die middel van die platgedrukte hoendermengsel. Krul jou hand sagkens toe om die pestomengsel in die hoendermengsel te omhul terwyl soveel lug moontlik by die kant uit laat ontsnap. Maak die bokant glad om te verseël. Herhaal met al die hoendermengsel.
- Pak die meel, eier en broodkrummels in hierdie volgorde in ’n ry. Bedek elke Kiëf om die beurt (eers met meel, dan eier, dan broodkrummels) en pak die bedekte Kiëf op ’n bord.
- Voorverhit die olie in ’n middelslag-pot. Wanneer die olie reg is, braai die Kiëf 8 min. tot dit mooi goudbruin is terwyl jy dit tydens die gaarmaaktyd omdraai.
- Haal die Kiëf uit en dreineer dit op kombuispapier. Sit voor met ’n skeut suurlemoen, ’n bietjie sout en ekstra pesto om dit in te doop.
Deur Hope Malau
Foto: Misha Jordaan