Almal se motors maak af en toe ’n vreemde geluid. Maar weet jy wanneer dit beteken iets skort?
Hier is ’n lys van 12 algemene geluide wat jou motor kan maak en wat dit waarskynlik beteken:
1. ’n Harde yster-op-yster-skreeugeluid wanneer jy die rempedaal trap.
Die remskoene of -skywe is dalk verslete en moet waarskynlik vervang word.
2. Die stuurwiel vibreer effens, selfs op gladde en gelyk paaie.
Die wiele is waarskynlik ongebalanseerd, en moet gebalanseer en belyn word.
3. Die ruitveërs haak en raas wanneer hulle oor die voorruit vee.
Die rubber op die ruitveërs het verweer en vee nie meer die voorruit deeglik skoon nie. Vervang dit so gou moontlik.
4. Daar is ’n konstante woerklank vanuit die enjin.
Die brandstofpomp kan besig wees om te breek en moet dalk vervang word. Die motor sal tipies sukkel om aan die gang te kom, krag verloor en/of stotter terwyl jy bestuur. Jy kan dit vermy deur nie die motor se brandstoftenk tot onder ’n kwart vol te laat daal nie.
5. Jy hoor ’n duidelike stampgeluid wanneer jy oor ’n spoedhobbel ry.
Dit dui waarskynlik op ’n probleem met die motor se skokbrekers, of rubbers en skakels in die veringstelsel.
6. Jy hoor ’n klakgeluid naby die wiele wanneer jy draai.
Die gelykeskakeling-koppelingseenheid (CV joint) is waarskynlik verslyt en moet vervang word.
7. Die stuurwiel kreun wanneer jy draai.
Daar is dalk ’n lekkasie in die kragstuurmeganisme of die kragstuurpomp het onklaar geraak.
8. Daar is ’n harde skreeugeluid vanuit die enjin wanneer jy dit aanjaag.
Dit kan beteken dat die waaierband gly en vervang moet word.
9. Jou motor se bande is beslis nie pap nie, maar jy kan ’n ligte stampgeluid in die ry hoor.
Dit kan dalk as gevolg van plat kante op die loopvlak van die bande wees, veral as die motor ’n geruime tyd stilgestaan het. Die loopvlak se vorm behoort te herstel na ’n paar kilometer se ry, maar soms is plat vlakke op bande meer permanent. Indien dié geluid nie verdwyn nie, laat ’n kenner jou bande nagaan.
10. Die klank van hoë druk lug wat uit die enjin ontsnap, gewoonlik ’n hoëfrekwensie-skreeugeluid.
Daar kan ’n lekkasie in die skakel tussen die enjin en uitlaatstelsel wees, wat veroorsaak dat warm en skadelike uitlaatgasse die kajuit binnedring.
11. Jy kan ’n effense sisgeluid vanuit die enjin hoor wanneer die motor luier.
’n Rubber of plastiese vakuumpyp of -koppeling kon dalk ontkoppel of geskeur het en moet óf weer vasgemaak óf vervang word.
12. Daar is ’n gerammel vanuit die enjin wanneer die motor luier.
Maak seker of daar enige verkoelingsvloeistof onder die waterpomp is wanneer die enjin koud is. Indien wel, is die waterpomp moontlik aan die groet.
Bron: Virseker Persverklaring