VERWARD IN ’N HUIS VOL MEISIES
Om die enigste haan onder die henne in jou huis te wees kan soms uitdagend en verwarrend wees. Goed, ons chihuahua, Charles, is ook ’n mannetjie, maar iemand wat hurk wanneer hy wil piepie, tel nie juis nie.
As ’n vryskutwerker met ’n kantoor by die huis, het ek bedags vrye tyd. Ek is dus een van die gelukkige pa’s wat baie tyd saam met die kinders kan deurbring. My oudste, die driejarige Tayla-Jean, hardloop dikwels na my toe wanneer sy val of iets nodig het.
As sy snags wakker skrik, kom sy na pa se kant van die bed toe. Wie moet haar tande borsel? Jip, dis pa se werk. Ek is ook die een wat op die trampolien moet spring en haar rondom die huis moet jaag.
Daarom verwar dit altyd my piepklein manlike brein wanneer dit voel asof ek my in ’n parallelle heelal bevind; skielik kry ek nie eens ’n “hallo” nie, of sy kyk nie eens vir my aan nie. Dis asof daar ’n haakplek in die matrix is.
En dan, oomblikke later, is dit asof die wolke gelig het en die son weer helder skyn en ek is weer die koelste pa ter wêreld.
Goed, Tayla-Jean is nou wel emosioneler en sensitiewer as my 11 maande oue dogter, Alyssa, maar sy doen dit ook. Dae aaneen is ek al wat haar kan kalmeer en oorreed om in die bababedjie te slaap. En dan, soos ’n wrede ontknoping in ’n Stephen King-roman, is ek die geswore vyand.
Wat die derde meisie in die Pilgrim-huishouding, my vrou, Nicole, betref . . . wel, sy lees my blog, so laat ek net sê sy is ALTYD gaaf (ek hoop dit tel in my guns).
In ’n huis vol meisies (en een klein chihuahua-mannetjie) is ek dikwels verward en wonder wat het pas gebeur. Maar ek sou dit vir niks ter wêreld verruil nie.
Deur Mark Pilgrim
*Mark Pilgrim is ’n vryskut radio-en-TV-aanbieder en ’n platejoggie op 94.7 Highveld Stereo en 94.5 Kfm.