Simon Cowell dink daaraan om sy baba Eric of Erica te noem, na sy oorlede pa.
Die Britse mediabaas verwag sy eerste kind by die Amerikaanse sosiale vlinder Lauren Silverman, en voel die naam sal ’n gepaste huldeblyk wees aan sy pa, wat in 1999 in die ouderdom van 81 aan ’n hartaanval oorlede is.
’n Bron het aan die Daily Star gesê: “As dit ’n seun is, wil Simon hom Eric noem, en Erica as dit ’n dogter is. Sy pa het die wêreld vir hom beteken en Simon dink die naam sal ’n gepaste eerbewys wees. Lauren het nog nie besluit nie, maar neem Simon se voorstel baie ernstig op. Sy hou van die naam Eric, aangesien dit stylvol en ook taamlik ongewoon in Amerika is. Sy dink ook Erica is ’n koel meisienaam.”
Eric het vir die musiekfirma EMI gewerk en Simon gehelp om werk in die poskamer te kry, van waar hy eindelik gevorder het tot hy die hoof van The X Factor geword en as ’n beoordelaar op American Idol verskyn het. Dit het hom een van die bekendste gesigte op Britse en Amerikaanse TV gemaak.
Simon (53) het sy pa al ’n “briljante mentor” genoem, terwyl sy ma, Julie, gesê het dat sy hom steeds geweldig baie mis.
Simon is glo intussen besig om gewoond te raak aan die idee van ouerskap en Lauren (36), wat glo drie maande swanger is, het haar by hom op sy seiljag naby St. Tropez in Frankryk aangesluit.
’n Bron het gesê: “Dis iets wat Simon nooit verwag het sal gebeur nie. Noudat dit gebeur het, wil hy die geleentheid met albei hande aangryp en ’n goeie pa wees. Hy wil so ’n goeie pa wees soos sy pa was; hy wil doen wat sy ouers vir hom gedoen het.”