Dit word ál gewilder om oorsee te vlieg wanneer jy swanger is en sommige pare beskou ’n boepiewegbreek as ’n noodsaaklikheid voor hul bondeltjie vreugde opdaag.
Ons stem saam. ’n Boepiewegbreek kan ’n reuse verskil maak, nie net aan jou welstand nie; ook aan jou verhouding. As dit jou eerste kind is, is dit soveel meer rede vir jou om ’n blaaskans te neem voor die chaos van ouerskap losbreek.
Die beste tyd om ’n blaaskans te neem is in die tweede trimester, aangesien oggendnaarheid teen daardie tyd gewoonlik verby is en die ongemak van die derde en laaste trimester nog voorlê.
Jy is nog nie oortuig nie? Hier is nog ’n paar redes:
Jy sal nou volop geleentheid hê om te slaap, te dut, in te sluimer, wat jy dit ook al wil noem. As voornemende ma sal jy heel waarskynlik uitgeput voel omdat jy ’n mensie binne-in jou ronddra en jy sal heel moontlik snags gesteur word deur vreemde sensasies.
En as maat van die swanger vrou, sal jy ongetwyfeld rondhardloop om seker te maak dat sy gemaklik is. Julle verdien albei ’n ruskans, al is dit net vir ’n week. Dink net hoe min rus gaan julle kry wanneer die baba eers daar is; pas dus nou elke moontlike oomblik se rus in.
Die ideale geleentheid om net te ontspan en daardie boek wat jy al hoe lank graag wil lees, nader te trek, is wanneer julle op die strand of langs die swembad lê.
Jou verstand kan deurmekaar voel van al die gefokus op die koop van doeke, van seker maak dat die bababedjie reg is en van die koop van tientalle stukke babaklere. Wil jy nog meer ontspan? Oorweeg dit om jou selfoon die grootste gedeelte van jou wegbreek af te skakel.
As die hotel waar julle bly, masserings en behandelings aanbied, bederf jouself. Dit sal jou help ontspan en jy sal gemakliker voel in jou eie vel. Swangerskap het sy probleme, soos pyne en skete; daarom kan professionele hulp van onskatbare waarde wees.
Om kilometers ver van die huis af te wees kan angswekkend wees en dan kan jy tot die besef kom dat jy die toekoms vrees. Jy het niks om oor skaam te voel as jy oor jou probleme praat nie en hierdie wegbreekkans bied ’n geleentheid om hulle te oorkom, pleks van hulle saam te vat terug huis toe. Gesels met mekaar en wees openhartig as iets jou pla.
Die belangrikste is om mekaar se geselskap te geniet en julle daarin te verlustig om ’n paartjie te wees voor julle drie (of vier of vyf of ses . . .) word. Sorg vir romanse deur middel van ’n paar kerse en ’n romantiese bad, en probeer ervaar alles waarmee jy nog gemaklik voel.
© Cover Media