Ná agt weke in die Kokkedoor-kombuis, het Marinda Engelbrecht (54) van Hopefield aan die Weskus saam met haar spanmaat van die afgelope twee weke, Johann Breedt, in gisteraand se aflewering vasgeval.
Marinda, wat as die skepper van die gewilde Vlooi-kinderteaterproduksies liewer agter die skerms as ’n regisseur werk, vertel oor haar tyd voor die kameras in Kokkedoor, die 12 brille wat sy Prins Albert toe ingepak het en oor haar etiket as die program se eie lipstick lady.
Hoe voel jy oor die einde van jou Kokkedoor-reis?
Wanneer ek terug sit, dink ek ek moes miskien sterker deurgekom het, maar dis water onder die brug. Ek het begin huis toe verlang. My beurt was my beurt, maar ek was hartseer om die deelnemers vir wie ek so lief geword het, agter te los. Tog, soos ek gesê het, het ek verskriklik begin verlang na my mense by die huis en my honde en katte.
Het jy ’n voorgevoel gehad dat julle nie die paal sou haal nie?
Ja, ek het 100 persent geweet ons gaan huis toe. Daai dag was daar geen spanwerk tussen my en Johann nie. Ek dink nie ons het vertroue in die kombuis gehad nie.
Daar was nou al in twee episodes nogal spanning tussen jou en Johann. Verkwalik jy hom enigsins?
Nee. Ek kan hom glad nie blameer nie; ons was saam in ’n span. Omdat ons nie saamgewerk nie, is ons uitgestem. Daar’s geen blaam nie. Ons het net baie verskillende uitkyke op kos maak. Ek is die tradisionele slow cook, waar hy alles sommer net so tjoef-tjaf maak. Ons kon net nie die goue middeweg kry nie.
Dink jy jy sou verder in die kompetisie kon kom as jy en Mathilda (Venter) saam in ’n span gebly het?
Kom ek stel dit so: Ek was ’n beter span met Mathilda; ek het baie lekkerder met haar gewerk. Ek sou graag nog saam met Tiaan (Langenegger) en Rendil (Pieterse) wou werk. Ek dink dis mense by wie ek beter pas.
Wat sou jy anders doen as jy kon?
Ek was baie geïntimideer deur die mense saam met wie ek gekook het. Later het ek besef daar is geen rede om so te voel nie. Ek sou sterker wou deurkom, my meer laat geld en minder nice sou gewees het (lag); ek sou dan meer uit my hart en wortels kon kook. Ek is spyt ek het nie my instink vertrou nie.
Jy’t in jou profiel gesê jy’t ingeskryf om baie van ander te leer. Het jy?
Ja, ek het baie by Hetta (van Deventer Terblanche, een van die twee beoordelaars) geleer. Ek het geleer hoe om ordentlike wors te maak. By Johann het ek niks geleer nie, want my senuwees was te op gewees. Ek het selfs in ’n stadium gewonder of ek my tekkies moet aantrek, want daai man is vinnig! Hy’s die vinnigste van almal.
Wat het jy van jouself geleer?
Ek’s baie meer aanpasbaar as wat ek gedink het.
Was dit vreemd om jou op TV te sien?
Ja, dit is nogal vreemd, want mens is krities, veral omdat ek lief is om lipstick op te sit; ek sidder elke keer as hulle dit wys. Omdat ek die bedryf ’n klein bietjie ken, het ek besluit ek gaan nooit iets leliks van iemand sê nie en ek gaan nie huil nie. Ek wil oor drie maande dit kan kyk en nie skaam wees nie.
Wat is die publiek se reaksie? Keer hulle jou voor op straat?
Ja. Hulle gryp my aan die arm, dan vra hulle waar my kopband is. Mense vra my ook oor my lipstick. Ek sal seker as die lipstick lady van Kokkedoor doodgaan (lag). Die snaaksste versoek wat ek al gekry het, was toe ’n vrou my bel om te weet watter bril ek in die tweede episode opgehad het, want sy soek net so een. Ek het mos 12 brille ingepak. Ek is mal oor skoene en mal oor brille; ek het in elke episode ’n ander bril gedra. Ek hou van kleur. Die lewe is so vaal om net wit en swart en grys te dra.
Wat is jou gunsteling-oomblik van die hele reeks?
Vir my was die inlê-episode die lekkerste. Ek het gedink: Nou lê ek in, soos ek by my huis inlê. Dit was verskriklik lekker. Saterdagaande was ook lekker, want ons was af gewees. Ons het dan wyn saam met ons kos geniet. En dan het ek met whiskey en soda op Prins Albert se stoep gesit en verlang. Dit was so mooi daar. Dit was voedsel vir die siel.
Enige flaters waarop jy nie so trots is nie?
Daar was ’n paar gewees, maar ek dink die hele kook-ervaring in gisteraand se episode was ’n absolute ramp gewees, van begin tot einde.
As dit by kos kom, wat is jou skuldige plesiertjies?
Warm brood met botter so dik dat jou tande daarin byt. As jy dit in koffie doop, moet die botter ’n vetterige lagie maak. En oeee: kerrie. Dis diep lekker!
As elkeen van die Kokkedore ’n restaurant begin het, by wie s’n sou jy eerste eet?
By Tiaan en Rendil. Ek sou ook saam met hulle wou kook. Tiaan is baie vernuwend in wat hy doen, maar hy vergeet nie waar die moederresep vandaan kom nie. By Rendil sal ek wil leer hoe om vir die massas te kook. Ek is ook mal oor sy persoonlikheid.
Jou planne?
Ek gaan aan met my Vlooi; Augustus het ons ’n baie mooi Vlooi. Ek doen ook nou ’n hele paar kosdemonstrasies en sal veel meer daarvan wil doen.
Hoe kan aanhangers kontak maak?
Via Facebook. Klik hier.
Kokkedoor is Donderdae, 20:00 op kykNET