Die minister van justisie, Michael Masutha, het kennis geneem van ’n berig dat een van die Waterkloof-vier, Christoff Becker, hom en drie ander beamptes vir R2,5 miljoen dagvaar, het sy kantoor Vrydag gesê.
“Ons neem kennis van die berigte,” het die woordvoerder Mthunzi Mhaga in ’n SMS aan Sapa gesê. “Ons sal dit op dieselfde manier hanteer as wanneer die minister amptelik ingelig word van sodanige optrede.”
Die koerant Pretoria News het Vrydag berig ’n dagvaarding is vandeesweek uitgereik rakende Christoff se beweerde onregmatige inhegtenisneming en aanhouding. “Ek is nie seker of die balju al die dagvaarding aan die minister en die departement bestel het nie,” het die prokureur Carel Taute aan die koerant gesê.
Hy het gesê die vier verweerders, wat die voorsitter van die paroolraad insluit, het 20 dae om aan te dui of hulle die aksie gaan teenstaan. Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Reinach Tiedt is verlede Februarie op parool vrygelaat nadat hulle tronkstraf opgelê is omdat hulle in 2001 ’n hawelose man in Pretoria doodgeslaan het.
Becker en Du Preez is egter weer op 16 Februarie verlede jaar in hegtenis geneem nadat selfoonbeeldmateriaal op die lappe gekom het van die twee wat na bewering alkohol drink en ’n selfoon by die Kgosi Mampuru-gevangenis gebruik. Die video is op YouTube gelaai.
Die hooggeregshof in Pretoria het in Junie ’n dringende aansoek deur Becker om sy parool te heroorweeg afgekeur.
- Sapa