Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Fliekvlooi: Wat gebeur by rolprentteaters?

$
0
0

Die oud-maar-nog-lank-nie-koud-nie Britte is terug in The Second Best Exotic Marigold Hotel (7-9OT), die opvolg op die verbasend groot treffer van 2011.

In die eerste fliek het die jong en ambisieuse Sonny Kapoor (Slumdog Millionaire se Dev Patel) ’n kasarm in Jaipur, Indië, in die Best Exotic Marigold Hotel omskep, ’n ouetehuis waar ’n groep Britse pensioenarisse wat moeg was vir hul saai bestaan hul intrek geneem het.

Nou is die hotel tjok en blok vol en Sonny en sy medebestuurder, Muriel Donnelly (Maggie Smith van die TV-reeks Downton Abbey), het planne om uit te brei.

Intussen wonder Evelyn (Judi Dench van die James Bond-flieks) en Douglas (Bill Nighy van Love Actually) of hul gereelde ontbytafsprake ’n verhouding gaan word, die eertydse langtermyn-alleenlopers Norman (Ronald Pickup) en Carol (Diana Hardcastle) probeer balans vind in hul nuwe verhouding en Madge (Celia Imrie) sukkel om tussen twee aantreklike mans te kies.

Dan maak die nuwe inwoner Guy Chambers (Richard Gere van Pretty Woman) sy opwagting.

‘’n Absoluut sjarmante uitbreiding van ’n uiters onwaarskynlike franchise’

Die meeste kritici hou van die fliek. Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte wat resensente aan films toeken, bymekaartel en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 63 persent.

Hulle bevind: “The Second Best Exotic Marigold Hotel is omtrent so oorspronklik soos sy titel, maar met so ’n talentvolle en moeiteloos innemende rolverdeling maak dit skaars saak.”

Die Britse filmtydskrif Empire se Nev Pierce gee dit vier sterre en beskryf dit as “ ’n absoluut sjarmante uitbreiding van ’n uiters onwaarskynlike franchise.

Die regisseur, John Madden (Shakespeare in Love), hanteer groot temas sagkens en fnuik sinisme met humor. Maggie Smith is uitstekend.”

Daar was wyd en syd ontevredenheid toe Jake Gyllenhaal (Source Code) nie ’n Oscar-benoeming vir sy spel in die misdaadriller Nightcrawler (13TG) kry nie.

Jake speel die randfiguur Louis Bloom wat geld verdien deur skroot te verkoop in Los Angeles.

Toe hy ’n ongeluk op die snelweg gewaar, stop hy om van die metaal te oes en sien hoe ’n kameraman (Bill Paxton van Titanic) die polisie afneem waar hulle die beseerde bestuurder uit die wrak haal. Lou vind dit vreeslik opwindend en besluit om dit sy roeping te maak.

Hy kry ’n ietwat naïewe assistent (Riz Ahmed) en saam jaag hulle van die een ongelukstoneel na die ander op soek na die skokkendste beeldmateriaal wat hulle kan kry.

Dit verkoop hulle aan die veteraan-TV-nuusvervaardiger Nina (Rene Russo van Lethal Weapn 3), wat enigiets sal doen om haar kykers te behou. Maar dis nie lank nie of Lou begin verloor perspektief en raak meer betrokke as wat hy moet.

‘Jake se soepel vertolking gee woema aan Nightcrawler.’

Resensente is gaande oor die fliek.

Dit kry 95 persent by Rotten Tomatoes, wat dit beskryf as “rusteloos en visueel glansend. Jake se soepel vertolking gee woema aan Nightcrawler, wat donker kinkels en stof tot nadenke bied.”

Die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly se Chris Nashawaty gee dit ’n B+.

”Jake lewer sy beste – en grillerigste – spel tot op hede,” skryf hy.

“Hy het 15 kg vir die rol verloor, dalk om te wys hoe moreel leeg Lou se binneste is, en sy intensiteit gee die film ’n senuagtige energie. Nightcrawler herinner aan Network, die klassieke mediasatire van 1976. Toe is ons reeds gewaarsku dat ons laer instinkte op iets aakligs afstuur wat televisie as medium betref, maar ons het dit nie net geïgnoreer nie; ons het heeltemal oorgegee aan die duisternis. Op sy aweregse manier hou Nightcrawler die gees van Network aan die lewe. Dis ’n 21ste eeuse aanval op die media se morele verval en die aasvoëls wat daaruit geld maak.”

Die vooraanstaande regisseur Michael Mann, bekend vir sy beheersde, superkoel misdaadrillers soos Heat (1995) en Public Enemies (2009), is terug met Blackhat (16TG), wat in die wêreld van kubermisdadigers afspeel. Thor se Chris Hemsworth speel die kuberkraker Nick Hathaway wat ná 15 jaar in die tronk vrygelaat word om die Amerikaanse en Chinese regerings ’n wêreldwye kubermisdaadnetwerk te help oopvlek.

Ongelukkig lyk dit asof Michael dié keer die pot misgesit het en ek moet sê ek dink nie die macho Chris met sy bultende spiere is die regte keuse om ’n kuberkraker te speel nie. Rotten Tomatoes gee dit 34 persent en die konsensus is: “Al is die tema uiters relevant, is Blackhat dramaties lusteloos. Chris word in hierdie deurmekaar mistasting aan sy eie genade oorgelaat.”

Jamie Graham van die Britse fliektydskrif Total Film is egter vreeslik opgetrek met die fliek en gee dit vier sterre. “Dis nie op dieselfde vlak as Heat nie, maar die goedjies wat pla, kan maklik vergewe word te danke aan die meesterlikheid wat hier ten toongestel word, asook die elegansie van omtrent elke skoot. Niemand skiet gesigte, argitektuur en vuurwapengevegte soos Mann nie.”

The Woman in Black: Angel of Death (13GGr) is die opvolg op die 2012-gruwelprent wat in die vroeë 19de eeu afspeel. ’n Britse dorpie is toe geterroriseer deur die gees van ’n wraaksugtige vrou wat in ’n nabye herehuis, Eel Marsh House, gewoon het.

Sy het die inwoners se kinders na hul dood gelei omdat sy haar eie kind verloor het. Angel of Death speel 40 jaar later af tydens die Tweede Wêreldoorlog. Weens die Luftwaffe se aanvalle op Londen word die gebied ontruim en die kinders na Eel Marsh House gestuur vir hul eie veiligheid. Dis egter nie lank nie of die bose gees begin weer woed.

‘Dit lyk of die opvolg ’n mislukking is.’

Die eerste prent was baie goed, maar soos meestal die geval is, lyk dit of die opvolg ’n mislukking is. Rotten Tomatoes gee dit slegs 22 persent en bevind: “The Woman in Black 2: Angel of Death bevat ’n onheilspellende atmosfeer en is visueel skerp, maar kort spanning en bangmaakoomblikke.”

Empire se Olly Richards is toegeefliker en gee dit drie sterre.

“Die opvolg onderskei homself duidelik van die eerste fliek, want die storie is nie net ’n herhaling van die eerste een nie, ten minste nie aanvanklik nie,” skryf hy.

“Dit fokus meer op die ontstellendste elemente van die eerste fliek en daar is ’n paar waarlik grillerige oomblikke. Die filmmakers slaag ongelukkig nie daarin om met ’n oorspronklike slot vorendag te kom nie.”

Hoekom Chris Evans nog sy tyd met banale romkoms mors, gaan my verstand te bowe. Te danke aan Captain America en die Avengers is hy nou ’n groot ster, so jy sou dink hy sou belowende rolle hê om van te kies en te keur.

Maar in die afgesaagde Playing It Cool (13TS) speel hy ’n draaiboekskrywer wat ’n romantiese komedie probeer skep, maar nie in romanse glo nie.

Natuurlik ontmoet hy dan Die Een (Michele Monaghan van Eagle Eye), maar voor hy haar naam kan vra, verdwyn sy en spandeer hy die res van die fliek op soek na haar. Dalk het Chris gevoel hy skuld die draaiboekskrywers Chris Shafer en Paul Vicknair, wat ook aan sy debuut as regisseur, Before We Go (2014), gewerk het.

Die fliek is nog nie wyd gerenseer nie en Rotten Tomatoes het nog nie genoeg resensies bymekaargemaak om ’n konsensus te bereik nie. Chris Knight van die Kanadese koerant National Post gee dit twee en ’n half uit vier sterre. “Playing It Cool is ’n heeltemal skaflike keuse vir ’n afspraak met jou wederhelf, maar die fliek sou baat gevind het by meer ambisie en minder clichés.”

- Sandra Visser


Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>