’n Sakeman van Truro, Engeland, het ’n klein fortuin betaal om uit te vind wie sy dogter se kat doodgeskiet het.
Neil Tregarthen het teen amper R180 000 privaat speurders gehuur om die skuldige te vind nadat die plaaslike polisie volgens hom nie “genoeg gedoen het” nie.
Die kat, genaamd Farah, is in September verlede jaar buite sy dogter, Aylish, se huis in Exeter met ’n windbuks geskiet. Farah het die skoot oorleef en terug huis toe gekruip, maar is later in ’n dierehospitaal dood.
Ná ’n ses weke lange ondersoek het Neil se span ’n verdagte vasgetrek. Hoewel hulle hul bewyse in ’n verslag saamgevat het, het die plaaslike polisie steeds geweier om die vermeende skieter in hegtenis te neem.
’n Polisiebestuurder, Steve Parsons, het gesê die verslag is propvol omstandigheidsgetuienis en gerugte met te min tasbare bewyse. “Die polisie het die misdaad volledig ondersoek. Ek is seker ons het alles moontlik gedoen om die skuldige op te spoor.”
Intussen gaan Neil nie die saak laat vaar nie. Hy bied ’n losprys van R18 000 aan vir enigeen wat inligting het wat kan lei tot die inhegtenisname van die mens wat Farah geskiet het.
Bronne: BBC, Belfast Telegraph