Navorsers het tot die gevolgtrekking gekom die langdurige daaglikse gebruik van pynstillers verhoog jou kans om skielik te sterf met 63 persent. Dit verhoog ook die risiko vir ’n hartaanval of beroerte met 68 persent en daar is ’n byna 50 persent hoër kans dat die mens maagbloeding of ’n maagseer kan kry.
Parasetamol, wat vir enigiets van hoofpyn tot pyn ná ’n operasie help, word oor die algemeen beskou as veiliger as ander pynstillers soos ibuprofen, wat gekoppel word aan hartaanvalle en beroertes, en aspirien, wat maagbloeding kan veroorsaak.
Navorsers by die Leeds Institute of Rheumatic and Musculoskeletal Medicine het egter tot ’n ander gevolgtrekking gekom nadat hulle agt ondersoeke bestudeer het. Altesaam 666,000 pasiënte was betrokke.
Die pasiënte het tot 14 jaar lank daagliks parasetamol gedrink en die ondersoek het aangedui die pynstiller kan tot siektes lei omdat dit die werking strem van die COX-2-ensiem, wat in die liggaam voorkom.
‘’n Stelselmatige ondersoek na hoe doeltreffend parasetamol is, is regverdig omdat so baie mense dit gebruik en dit so maklik is om in die hande te kry.’
“’n Stelselmatige ondersoek na hoe doeltreffend parasetamol is, is regverdig omdat so baie mense dit gebruik en dit so maklik is om in die hande te kry,” staan in die ondersoek, wat in die tydskrif Annals of the Rheumatic Diseases gepubliseer is.
Pasiënte wat die pille minder dikwels gedrink het, is ook ondersoek. Philip Conaghan, hoofnavorser, het daarop gewys dat daar by die meeste pasiënte net ’n geringe risiko was. Hiermee saam het diegene wat parasetamol oor lang tydperke drink, moontlik reeds ’n ernstige siekte wat hulle vroeg kan laat sterf. Dit is dus moeilik om te bepaal of die pille die oorsaak van die probleem is.
In ander onlangse navorsing is bevind drie koppies koffie per dag verlaag jou risiko vir ’n hartaanval. Die voor- en nadele van kaffeïen word dikwels bespreek, maar navorsing deur die Kangbuk Samsung-hospitaal in Seoel, Suid-Korea, het getoon drie tot vyf koppies koffie per dag kan die risiko verlaag vir verstopte are, wat tot hartaanvalle lei. Die ondersoek is in die tydskrif Heart gepubliseer.
Meer as 25 000 Koreaanse mans en vroue onder die ouderdom van 41 jaar wat geen tekens van hartsiektes getoon het nie, is ondersoek. Daarna is hul koffie-inname vergelyk.
“Ons ondersoek dra by tot ’n groeiende getal bewyse wat toon koffie-inname word dalk verkeerdelik verbind met die risiko vir kardiovaskulêre siektes. Ons moet egter nog navorsing doen om ons bevindings te staaf en die biologiese grondslag van die moontlik voorkomende uitwerking van koffie op kroonslagaarsiektes vas te stel,” het die skrywers aangevoer.
© Cover Media