Die nuwe generasie Opel Corsa is pas in Suid-Afrika bekendgestel en is gerat om met die nuwe Hyundai i20, VW Polo en Ford Fiesta mee te ding.
Daar is drie modelle in die plaaslike reeks, Essentia, Cosmo en Enjoy, en al drie het Opel se indrukwekkende driesilinder-1,0 L-turbopetrolenjin met ’n sesganghandrat.
Dié enjin ontwikkel 85 kW se krag en wringkrag 170 Nm, terwyl die gemiddelde brandstofverbruik slegs 5,0 L per 100 km is.
Standaardkenmerke vir die intreevlakmodel, die Essentia, is onder meer ’n stop-ry-stelsel vir verbeterde brandstofvebruik en elektriese vensters voor.
Die Enjoy-weergawe het ook ’n ritrekenaar, LED-dagryligte, allooiwiele, lugverkoeling en misligte voor.
Die topmodel in die reeks is die Cosmo, wat bykomende kenmerke het, soos bi-xenon-hoofligte, spoedbeheer en reënsensors vir die ruitveërs.
Al drie modelle het ABS-remme en ses lugsakke as standaard. Boonop kan die Corsa-reeks met verskillende pakkette, wat nog meer kenmerke bied, opgekikker word.
Verder is die al drie Corsa-modelle met ’n waarborg vir vyf jaar/120 000 km en diensplan vir drie jaar/60 000 km beskikbaar.
Pryse
- Corsa 1,0T Essentia: R185 500
- Corsa 1,0T Enjoy: R216 200
- Corsa 1,0T Cosmo: R236 300