Die Amerikaanse presidentsgesin het Maandag ’n nuwe hond gekry.
Sunny is ook ’n swart Portugese waterhond, nes pres. Barack Obama en sy gesin se ander hond, Bo.
“Sunny is die perfekte kleinsus vir Bo – vol energie en baie liefdevol. Die presidentsgesin het haar naam gekies omdat dit by haar opgeruimde persoonlikheid pas,” lui ’n inskrywing op die Withuis-blog.
Die Obamas het Bo gekry kort nadat hulle in 2009 by die Withuis ingetrek het; Barack het sy dogters op die aand in November 2008 toe hy verkies is, belowe hulle kan een kry.
Bo, ’n reun, was eensaam, lei ’n mens af uit ’n inskrywing deur Michelle Obama se woordvoerder, Hannah August.
“Behalwe dat hy met al daardie amptelike pligte help, neem Bo ook nou die belangrike rol van ouboet op sy skouers,” sê die blog.
Die Withuis se aankondiging het gepaardgegaan met foto’s en selfs ’n video – met musiek – van die sowat eenjarige brakkie wat saam met haar nuwe hondemaat op die suidelike grasperk van die Withuis rinkink.
Toe Bo sy opwagting by die Withuis maak, het die Obamas verduidelik hulle het ’n Portugese waterhond gekies omdat hul jonger dogter, die 12-jarige Sasha, aan allergieë ly en hierdie honderas selde allergiese reaksies veroorsaak. – Sapa