Die nuwe seisoen inspireer ons kosblogger Sarah Graham om heerlike (en kitsklaar) spaghetti met ertjiepesto te maak.
LENTE is in die lug. Wel, ons rustige vriende daar onder in die Kaap is dalk nog nie heeltemal hiervan oortuig nie want dit lyk of die koue langer in die suide draal, maar hier in Gauteng is daar beslis iets nuuts en vars in die lug. Jy kan dit ruik, jy kan dit voel, en die heel belangrikste: Jy kan dit proe.
Daar is iets baie spesiaals en vertroostends aan lentevrugte en -groente. Jy kan proe hoe hulle hoopvol en met soet afwagting uitsien na die vernuwing wat die seisoen bring. Hulle is lig en sonnig, helder en lewendig en jaag stilweg maar vasberade die somberheid van die winter weg. Die besef dat die natuur weer eens noodsaaklike verandering gebring het, laat my hart altyd glimlag.
En wanneer ek aan die lente dink, dink ek dikwels aan ertjies en hul pragtige, helder groen kleur. Dit kos nie baie om my aan die praat te kry oor hoe lief ek vir ertjies is nie. Dis een van my gunsteling-stapelvoedsels in die vrieskas en maak omtrent enigiets op ’n slim manier mooi.
Ek gooi hulle op die laaste nippertjie in kerrie, in sop en bredies, ek voeg hulle by viskoekies en ek is mal daaroor om hulle fyn gedruk saam met kruisement en ’n strooisel suurlemoenskil in immer gedienstige kapokaartappels te sien. En dan, soms, hou ek daarvan om hulle in hul nederige glorie in iets soos dié gereg te sien, waar hulle onbeskaamd die ster van die vertoning is.
Net ’n koppie ertjies in ’n voedselverwerker gemeng met olyfolie, dennepitte, suurlemoensap, knoffel, kruisement en geurmiddels voer jou tot ertjie-pesto-perfeksie. Voeg ’n bietjie brosgebraaide rooi chorizo-croutons en stringe syerige pasta by en dit word een van my gunsteling-bederfgeregte. Dis boonop moeiteloos en baie naby aan kitsklaar.
Spaghetti met ertjiepesto en chorizo-croutons
Genoeg vir 2 mense
Bereiding: 5 minute
Gaarmaaktyd: 12 minute
JY HET NODIG
Spaghetti
1 e (15 ml) olyfolie
200 g spaghetti
100 g chorizo-worsies, in blokkies gesny
Pesto
1 k (250 ml) bevrore ertjies, ontdooi
1-2 e (15-30 ml) olyfolie
1 e (15 ml) suurlemoensap
1 e (15 ml) gekapte vars kruisement
2 e (30 ml) dennepitte
½ knoffelhuisie, gekneus
seesout en swartpeper na smaak
1-2e (15-30 ml) warm water om dit te verdun, indien nodig
MAAK SO
1 SPAGHETTI Voeg die olyfolie en spaghetti by ’n groot pot soutwater en kook sowat 10 minute tot al dente. Dreineer, bedruip met olyfolie en hou eenkant.
2 PESTO Maak intussen die pesto deur al die bestanddele saam te meng met ’n voedselverwerker of ’n stokmenger. Proe vir smaak en voeg ’n bietjie warm water by om dit losser te maak indien nodig.
3 Braai die chorizo-blokkies in ’n bietjie olyfolie tot goud en bros. Laat op kombuispapier dreineer.
4 Meng die spaghetti met die pesto tot dit goed bedek is. Verdeel tussen twee verwarmde bakke, strooi die croutons oor en ekstra seesout en vars gemaalde swartpeper na smaak.
WENK Vervang die chorizo-worsies met spek
Sarah Graham is ’n kosblogger, kookboekskrywer en TV-sjef. Lees gerus haar kosmymeringe op haar blog afoodieliveshere.co.za. Jy kan haar kookboek bitten in boekwinkels koop of op haar webtuiste. Kyk haar TV-program“bitten – Sarah Graham Cooks Cape Town” op Sondae om 16:00 op SABC3.
Lees Sarah se ander blogs vir Huisgenoot:
Sop, lieflike sop