Google se hoof van selfbestuurmotors verwag mense sal motors sonder bestuurders binne twee tot vyf jaar van nou af op openbare paaie begin gebruik.
↧
Google se hoof van selfbestuurmotors verwag mense sal motors sonder bestuurders binne twee tot vyf jaar van nou af op openbare paaie begin gebruik.
Chris Urmson sê hierdie motors sal eers toetsvoertuie wees. Google sal so data insamel van hoe die motors op voetgangers en ander motors reageer.
Google ontwerp tans sensors wat padtekens en ander voertuie kan waarneem en sagteware wat die data kan verwerk. Die klein, bolvormige motors sonder stuurwiel of pedale word by die Google-aanleg in Kalifornië getoets.
Urmson wil hulle nie verbind tot ’n datum vir die bekendstelling van die motors nie en sê dit moet veilig wees voor hulle dit sal begin bemark. Hy het Woensdag aan verslaggewers op Automotive News se wêreldkongres in Detroit vertel hy weet nog nie hoe Google geld gaan maak uit dié voertuie nie.
Urmson wil graag verby die fase kom waar die span loodskarre gebruik. “Ons wil graag vorder tot op ’n punt waar ons leer oor die wisselwerking tussen mense en motors, hoe hulle dit gebruik en hoe ons dit kan verbeter om ’n produk te skep wat mense wil gebruik,” het hy gesê.
Hy het voorspel die motors kan wel op ’n tydstip op pad misluk, maar dat die motors al meer as 1 125 000 km op openbare paaie afgelê het sonder dat hulle ’n ongeluk veroorsaak het.
Bron: Sapa