Inwoners van Seattle kon hulle oë nie glo nie toe hulle ’n swart Labrador houtgerus, sonder haar eienaar, by ’n bushalte op ’n bus sien klim en op ’n sitplek by ’n venster gaan sit.

Maar groter was hulle verbasing toe Eclipse, die tweejarige teef, vier bushaltes later van die bus afklim om in die hondepark naby die halte te gaan speel.
Sedertdien het Eclipse en haar busritte al ’n bekende gesig in dié noordwestelike Amerikaanse stad geword.
Eclipse se uitstappies het glo begin toe haar eienaar, Jeff Young, een dag volgens haar hopeloos te lank gedraai en sy sigaret nie vinnig genoeg klaar gerook het nie. Die twee woon naby ’n bushalte.
Eclipse het toe op haar eie na die bushalte gestap, op die bus geklim, haar plek by ’n venster ingeneem en buitentoe gestaar. Pendelaars kon hul oë skaars glo. Maar sy het, volgens die busbestuurder, die omgewing dopgehou en vier haltes later op die regte plek afgeklim.
Nou is Eclipse ’n gereelde pendelaar.
“Al die busbestuurders ken haar,” het ’n plaaslike omroeper, Miles Montgomery, aan ’n plaaslike TV-kanaal vertel wat ’n insetsel oor Eclipse se uitstappies uitgesaai het.
“Ek kon dit nie glo toe ek dit sien nie. Sy klim op haar eie op en af en gaan dan na die hondepark.”
Volgens die pendelaars is sy baie goed gemanierd en gee hulle glad nie om dat sy saam met hulle bus ry nie. Hoewel Eclipse baie alleen op haar gereelde uitstappies gaan, neem Jeff haar nog gereeld park toe.
En volgens ’n woordvoerder van die stad is hulle baie tevrede en bly dat ’n hond so tevrede met die openbare vervoer is en dit gebruik.
BRON: news.comau
Loer hier na die video van Eclipse: