Roetine kan jou verstand lui maak.
En Maandagoggende is ’n goeie voorbeeld van wanneer jou brein op sy beste en nie traag moet wees nie. As jy dus daardie ekstra hupstoot nodig het, kan jy dié stimulerende wenke probeer:
Jy behoort al te weet dat wat jy eet, ’n groot rol in breinkrag speel. Hoewel baie mense op ’n suiker-inspuiting staat maak om hulle aan die gang te kry, is dit nie ’n langtermyn-oplossing nie en hul energie sal gou weer afneem. Om soortgelyke resultate vir langer te kry moet jy soggens proteïene en gesonde vette inkry. ’n Koppie groentee sal kognitiewe funksie verbeter, en hawermout en bloubessies sal jou geheue verskerp omdat dit propvol flavonoïede, is wat jou geheue ’n hupstoot gee.
Jy kan nie deur die dag net op eet staatmaak om die brein aan die gang te hou nie; ander goed, soos musiek luister en lees, sal ook help. Jy het seker jou gunstelinge wat jy heeltyd speel, maar wat van ’n bietjie afwisseling? Instrumentele liedjies kan net so boeiend soos dié met sang wees, en die gebrek aan woorde sal jou uitdaag om self ’n paar uit te dink. Of jy kan daarna luister en jou voorstel watter scenario’s die beste by die snit se gevoel pas.
Dieselfde geld vir lees: As jy sukkel om deur ’n boek te kom trek ’n kortverhaal nader. Dis makliker om klaar te lees en met ’n nuwe storie wat ná elke paar blaaie begin, sal jy nie verveeld raak nie en jou verstand bly aan die gang.
As jy nie by die werk is nie, kan dit jou brein baie baat om nie te veel tyd voor die kassie deur te bring nie omdat dit die perfekte verskoning is om af te skakel. Gebruik jou af tyd om ’n nuwe vaardigheid of stokperdjie aan te leer, soos om ’n instrument te bemeester of te brei. Elke nuwe ding wat jy leer, verbreed verskillende dele van jou brein, wat jou meer bewus en wakker maak.
Diep asemhaling help ook. Iets so eenvoudig soos 10 asemhalings sal nie net van spanning ontslae raak nie, maar ook jou kop skoonmaak van enige onnodige gedagtes en jou slaggereed maak om op belangriker dinge te konsentreer.
Nog ’n wenk is om letterlik jou bekommernisse af te skud. As jy ’n traumatiese ervaring beleef het of ’n nuwe begin ná ’n besige tydperk wil maak, volg Taylor Swift se aanwysings en skud jou lyf, beweeg jou arms en bene en strek jou nek. Dit sal jou breinselle en spiere help om van angstigheid ontslae te raak en kan as reiniging beskou word.
© Cover Media