Daar was Dinsdag geen aanduiding van beurtkrag nie, maar die kragtoevoer by onder druk, sê Eskom.
“Ons lyk redelik goed vir vandag, maar die stelsel is voortdurend onder stremming. As iets onverwags gebeur, sal ons dalk beurtkrag moet instel,” sê die kragvoorsiener se mediamense.
Maandag het Eskom gesê die kragselsel sal na verwagting hierdie week uiters beperk wees, want ondernemings en skole heropen.
Die vraag na elektrisiteit sal na verwagting toeneem met ’n matige risiko vir kragonderbrekings.
“Die stelsel bly kwesbaar, wat beteken enige ekstra lading of foute in die stelsel kan dit nodig maak om beurtkrag toe te pas,” het Eskom Maandag in ’n verklaring gesê.
Vrydag is fase een-beurtkrag van 11:00 tot net ná 17:00 toegepas, want die vraag na elektrisiteit het die aanbod oorskry. Vir fase een kan tot 1000 MW van die landwye verbruik afgeskakel word.
Op 5 Desember het Eskom fase drie-beurtkrag ingestel. Dan kan tot 4000 MW van die landwye vraag uitgeskakel word.
Op 8 Desember het Eskom se uitvoerende hoof, Tshediso Matona, gesê die land het nie ’n kragvoorsieningsprobleem nie.
- Sapa