As jy ’n hond het, ken jy al die storie: Wagter wag jou smiddae in vir sy stappie, maar sodra hy die halsband en leiband aanhet, is dit ’n gerem en getrek al om die blok.

Dis dié dat die wêreld hul skoon verkyk aan Augusto Deoliveira, 23, wat met sy vyf halsbandlose honde deur die strate van die dorpie Hyannis, Massachusetts in die VSA, loop.
Augusto het ’n video op YouTube gelaai waarin hy vir vyf minute saam met sy honde deur die strate stap en meer as 9,6 miljoen mense het hulle al verkyk daaraan.
Hy besit die Griffin-hondehawe in Hanson, ook in Massachusetts, en het grootgeword op ’n plaas in Brazilië waar hy altyd omring was met dié viervoetige vriende. Hy lei honde op en spesialiseer veral in Duitse herdershonde.
Sy geheim?
“My honde verstaan dat ek deel van die trop is. Ek bestee baie tyd saam met hulle – ek voer hulle, ek laat hulle uit, ek laat hulle oefen. Ek doen alles saam met hulle,” verduidelik Augusto.
“Vanweë die manier wat ek hulle afrig, is ek vir hulle die leier. In enige situasie sal hulle vir my wag vir leiding.”
Loer gerus na die video hier: @MailOnline op Twitter, DailyMail op Facebook
Bronne: The Daily Mail, The Mirror en YouTube