Justin Bieber het sy debuutveldtog vir Calvin Klein bekend gemaak. Die 20-jarige sanger spog met sy gespierde lyf en spul tatoes in ’n noupassende wit onderbroek.
Met sy hande voor hom teen mekaar geslaan staar Justin smeulend na die kamera.
Toe die veldtog Dinsdag bekend gestel word, het Justin gesê hy is opgewonde daaroor om die nuwe gesig van die onderklerehandelsmerk te wees.
“Amptelik ’n deel van die nalatenskap,” het Justin langs die foto getwiet. “Gaan kyk na @calvinklein vir nog. #mycalvins. #newfaceofcalvinklein.”
Calvin Klein het Justin se aanhangers vroeër skoon op hol gehad toe hulle ’n foto geplaas het van ’n onbekende man wat met net ’n langbroek aan agter ’n tromstel sit.
Hulle het die Beauty and the Beat-sanger se identiteit later onthul en sodoende ’n storm op Twitter ontketen.
Op nog ’n foto van Justin se veldtog poseer hy langs die Nederlandse model Lara Stone.
Die ma van een, wat met die Britse komediant David Walliams getroud is, poseer bostukloos in net ’n paar wit jeans met haar hand op die middelband van Justin se broek.
Die sanger sit sy hand op Lara se been terwyl sy haar arm beskermend oor sy bors vou.
Justin en Lara het al voorheen saamgewer. By die Fashion Rocks-konsert in September het die sanger met sy spiere gespog deur langs die model op die verhoog sy broek te laat sak.
Justin het hard aan sy lyf gewerk om op sy beste vir die veldtog te lyk.
Daar gaan selde ’n dag verby dat die sanger nie ’n foto deel van waar hy in die gim spiere bou nie.
Toe hy verlede jaar oor sy oefenroetine praat, het Justin gesê: “Ek oefen in die gim, raak groter en probeer sexy vir die meisies raak.”
© Cover Media