Hashim Amla en AB de Villiers het Woensdag op Supersport-park in Centurion tydens die eerste dag van die eerste toets tussen Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande ’n rekord vir lopies om die vierde paaltjie verbeter. Teen uitskeityd was die telling 340/3.
Die twee het saam gekolf toe die Proteas ná die eerste sessie op 57/3 staan.
Hulle het deur die dag die kolftempo stadigaan verbeter en het teen uitskeityd saam 283 lopies aangeteken.
In die 2003/2004-seisoen het Jacques Kallis en Gary Kirsten in Durban 249 lopies om die vierde paaltjie aangeteken, ook teen die Wes-Indiese Eilande.
Aan die einde van die dag se spel het Hashim 133 (242 aflewerings, 17 viere) en AB 141 (211 aflewerings, 15 viere, 2 sesse) lopies gehad.
Kort ná die teepouse het AB se 20ste toetshonderdtal van 138 balle behaal. Toe was dit Hashim se beurt; dié het sy 23ste honderdtal in sy eerste toets as kaptein aangeteken.
‘Hulle het deur die dag die kolftempo stadigaan verbeter en het teen uitskeityd saam 283 lopies aangeteken.’
Om sake vir die besoekers te vererger het hul beste bouler vir die dag, Kemar Roach, tydens die laaste bal van sy 16de boulbeurt ’n besering opgedoen.
Hy moes die veld verlaat met ’n vermoedelike beenbesering nadat hy boulsyfers van 2/52 behaal het.
Jerome Taylor het toe die laaste bal van die boulbeurt afgestuur.
Die besoekers kon in die twee laaste sessies van die dag nie ’n paaltjie neem nie nadat hulle die derde paaltjie in die middel van die eerste sessie geneem het.
Suid-Afrika was op 57 sonder die verlies van ’n paaltjie toe die Wes-Indiese Eilande toeslaan en drie paaltjies neem.
Kemar het die deurbraak gemaak en Alviro Petersen (27) se paaltjie geneem.
Dean Elgar is kort daarna op 28 uit; hy het ’n aflewering van Sheldon Cottrell reguit na Marlon Samuels in die gang, wat die gasheerspan op 57/2 gelaat het.
Kemar het weer toegeslaan toe Faf du Plessis op 0 deur die paaltjiewagter en kaptein, Denesh Ramdin, uitgevang is.
Bron: Sapa