’n Gesonde lewenstyl is ’n bewese manier om kwale soos hartsiekte en vetsug af te weer. Maar nuwe navorsing toon daar is vyf eenvoudige stappe wat mense kan volg om hul brein gesond te hou en hul risiko te verminder om siektes soos Alzheimer te ontwikkel.
Dit sluit in gereelde oefening, nie rook nie, ’n gesonde liggaamsgewig, Mediterreense dieet en lae alkoholinname. Age UK se ontleding onthul ’n mens se lewenstyl dra sowat driekwart tot kognitiewe agteruitgang by – die soort veranderinge in denkvaardighede wat met ouderdom vermeerder insluitend geheueverlies en denkspoed.
As deel van die navorsing is ’n ondersoek op mans uitgevoer. Diegene wat die vyf wenke vir ’n gesonde lewenstyl gevolg het se kans om kognitiewe agteruitgang te ontwikkel asook hul kans om demensie te ontwikkel was 36 persent laer as dié wat nie het nie.
Die nuwe navorsing spruit uit The Disconnected Mind. Age UK het betaal vir die navorsingsprojek oor hoe denkvaardighede met ouderdom verander. Dit sluit die jongste internasionale demensieondersoeke in en toon die voorkoming en behandeling van diabetes, hoë bloeddruk en vetsug kan die risiko vir die siekte verminder.
Die belangrikheid van liggaamlike oefening is een van die kernboodskappe. Of dit nou aërobiese, weerstands- of balansoefeninge is, daar is bevind oefening is die doeltreffendste manier om kognitiewe agteruitgang by gesonde ouer mense te bestry en die risiko te verminder om Alzheimer-siekte te ontwikkel. Volgens die jongste ramings leef 850 000 Britte met demensie saam.
Maar ondanks die waarskuwings toon die ondersoek dat skaars ’n derde van Britte daarin slaag om die aanbevole 150 minute oefening per week te doen.
“Hoewel daar steeds geen genesing of manier is om demensie om te keer nie, toon die bevindings daar is eenvoudige en doeltreffende maniere om ons risiko te verminder om dit in die eerste keer te ontwikkel,” sê Caroline Abrahams, liefdadigheidsdirekteur van Age UK.
“Boonop is die veranderinge wat ons moet maak om ons brein geson te hou reeds bewys om vir die hart en algemene gesondheid goed te wees. Daarom is dit gesonde verstand vir ons almal om dit in ons lewe in te sluit. Hoe gouer ons begin, hoe beter is ons kans om later ’n gesonde lewe te hê.”
© Cover Media