’n Duitse tydskrif het woede ontlok oor ’n voorbladfoto van Michael Schumacher met ’n sonbril en jas aan met die woorde: “Watter geluk! Hy sit in die son!”

Die foto wys die sewemalige Formule Een-kampioen met ’n vlieëniersonbril en swart winterjas aan.
Die Aktuelle, ’n leefstyltydskrif gemik op vroue, skryf dan: “Roerende oomblikke”.
Die tydskrif word daarvan beskuldig dat hulle die wol oor lesers se oë trek en laat glo dit is die eerste foto van Michael sedert hy verlede Desember breinbeserings in ’n ski-ongeluk opgedoen het.
Dit beweer Michael (45) se vrou, Corinna, “laat hom op sonnige herfsdae in ’n rolstoel op hul terras sit”.
Die foto is eintlik op 26 Januarie 2013 in St Moritz, Switserland, geneem.
Die Duitse nuustydskrif Focus het die voorblad as “misleidend” bestempel.
Die aanlyn publikasie Motorsport.com het gesê: “Hoe laag kan jy daal? Blykbaar het sekere publikasies nie perke nie.”
“Die meerderheid van lesers sal nie agterkom die foto se datum is in ’n klein lettertipe gedruk nie.”
Die Duitse nuuswebtuiste news.de het gesê: “Die Aktuelle bewys weer vir hulle is daar niks te onsmaakliks om te publiseer nie. Die enigste doelwit is om sirkulasie te verhoog.”