Jy moet ’n groot besluit neem. Dalk wik en weeg jy tussen twee poste of dink daaraan om ’n verhouding te beëindig. Maar wat jy ook al doen, doen dit op ’n leë maag, maan navorsers nou.
Volgens nuwe navorsing wat in die joernaal PLOS ONE gepubliseer is, moet jy wag tot nadat jy jou keuse gemaak het voor jy eet.
Vir die ondersoek het die navorsers nege mans en 21 vroue aangesê om van elfuur die aand tot die volgende oggend niks te eet of drink nie, buiten water. Toe word hulle elkeen die Iowa-dobbeltaak gegee. Dit meet prestasie met ’n ingewikkelde taak waarvan die uitkoms onseker is.
Die kinkel is dat party aangesê is om te eet voor hulle die uitdaging voltooi het.
Voor hulle die dobbeltaak gegee is, is die deelnemers gevra om te sê hoe honger hulle is op ’n skaal van een (glad nie) tot vyf (baie).
Die uitslag: Diegene wat gesê hulle is honger, het beter gevaar as dié wat geëet het. Dus dui die ondersoek daarop dat “honger goeie besluitneming verbeter, pleks van benadeel”.
Die skrywers meen dis omdat jy ’n groter kans het om impulsiewe en emosionele besluite te neem wanneer jy honger is. Dit was blykbaar vir die deelnemers goed om nie te veel te dink nie.
Dit het dalk sin. Baie besluite word immers moeiliker as jy gedurig wik en weeg. ’n Bietjie druk kan maak dat jy jou instink volg en die rooi lig aan die einde van die hongertonnel sien.
Maar hou in gedagte die ondersoek was baie klein en nog navorsing moet gedoen word vir ’n meer beslissende verklaring. Maar probeer intussen groot besluite neem voor jy na trooskos soos ’n pizza gryp.
© Cover Media