Amper die helfte van Suid-Afrikaanse mans loop dalk gevaar om aan erektiele disfunksie (ED) te ly weens oormatige drankgebruik, volgens navorsing wat Woensdag bekendgemaak is.
Die ondersoek toon sowat ’n kwart van die land se mans het ’n risiko vir ED, sê Pharma Dynamics, ’n generiesefarmaseutika-onderneming wat in mans se seksuele gesondheid spesialiseer.
Kliniese ondersoeke dui daarop dat drie of meer standaard alkoholiese drankies per week erektiele funksie en seksuele bevrediging beduidend belemmer.
“Dis ’n ontnugterende gedagte, want meer as 31 persent van Suid-Afrikaanse mans drink meer as vyf standaard glase drank per week en 13 persent sluk gereeld minstens drie glase per week af.”
Meer as 500 mans van 18 tot 55 jaar het deelgeneem aan die landwye opname in Junie en Julie vanjaar.
Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie se jongste verslag oor drank en gesondheid, het Suid-Afrika die hoogste koers van drankgebruik in Afrika.
Tumi Motsei, ’n woordvoerder van Pharma Dynamics, sê dit beteken nie mans moet heeltemal ophou nie, maar dis belangrik om te onthou seks en drank is ’n delikate balanseertoertjie.
“Mans wat onder die invloed van drank is, voel dalk meer seksueel, gewilliger en het ’n sterker drang om ’n seksuele ervaring te soek, maar alkohol belemmer in werklikheid jou seksuele prestasie.
“Die lewer kan net ongeveer die hoeveelheid alkohol in een standaarddrankie per uur afbreek. As jy dus gereeld meer as dit drink, beteken dit gifstowwe van alkohol kan in jou liggaam opbou en jou organe beïnvloed, ook dié wat by seks betrokke is,” sê hy.
Mans wat van drank afhanklik is, het ’n 60 tot 70 persent kans om aan seksuele probleme te ly.
Volgens die opname raak ED tans vier uit elke 10 Suid-Afrikaanse mans – jonk en oud.
Mans met ED het dubbel die kans om ’n hartaanval te kry, ’n 10 persent groter kans op ’n beroerte en ’n 20 persent groter kans om vir hartversaking in die hospitaal opgeneem te word.
“Impotensie is trouens ’n vroeë waarskuwingsteken van dreigende kardiovaskulêre siekte (KVS).
“ED word veroorsaak deur vernoude slagare wat gewoonlik jare voor enige simptome van of probleme met KVS, hipertensie of diabetes duidelik word,” sê Tumi.