Verhoudings kan ingewikkeld wees – veral as dit die eerste keer is dat jy skoenlappers in die maag kry elke keer dat jy aan daardie oulike ou dink.
Maar voor jy dit eens oorweeg om met hom uit te gaan, is daar ’n paar goed wat jy moet weet.
Bly getrou aan jouself
Wanneer jy op iemand verlief is, verloor jy soms ’n bietjie kop. Dis piekfyn, want dit is ’n baie opwindende tyd van jou lewe. Maar onthou om nie in die proses jou eie identiteit te verloor nie – jy moet jou eie lewe hê.
Moenie daardie meisie wees nie
Jy hoef nie heeldag en aldag vir hom teksboodskappe te stuur en gedurig in verbinding te wees nie. Vertroue is een van die belangrikste bestanddele van ’n verhouding. Onafhanklikheid is aantreklik.
Alles is nie altyd opwindend en romanties nie
Moenie verwag dat die verhouding heeltyd so wonderlik en opwindend moet wees soos aan die begin nie. Maar hou in gedagte dat geluk in die klein goedjies lê en nie net oor wit perde, groot kastele en bosse blomme gaan nie.
Daar sal baie vervelige dae wees en dis in die haak. Wanneer jy saam met die regte mens is, is dit absoluut die moeite werd.
Moenie onder druk voel nie
Onthou, die liefde het nie ’n tydlyn nie. Daar is geen reëls oor wanneer jy moet begin hande vashou, soen of selfs sê ek is lief vir jou nie.
Moenie konsentreer op wat jy volgens die samelewing of jou vriende moet doen nie. Jy moet jou toespits op wat op hierdie oomblik vir jou reg voel.
Wees altyd gaaf met mekaar
’n Mens hoef nie gemeen te raak wanneer jy stry nie. Leer vriendelik baklei. Ja, julle sal oor goed verskil, maar elke meningsverskil hoef nie in ’n skreewedstryd te ontaard nie. ’n Gestry los niks op nie en jy kan nie jou woorde terugtrek nie.
Die geheim is kommunikasie. Werk daaraan.
Word reg behandel
Jy verdien om altyd liefdevol en met respek behandel te word. Moenie dat enigiemand jou minderwaardig laat voel nie. Hulle is regtig nie jou tyd en liefde werd nie.
Soms is dit nie bestem nie
Net omdat jy by iemand wil wees, maak hulle nie altyd die regte een vir jou nie.
Dis baie moeilik om te erken, maar soms maak dit nie saak hoe intens jou gevoelens is nie – party verhoudings werk net nie uit nie, om watter rede ook al. As dinge nie werk nie of te moeilik is, moet jy dit aanvaar en aangaan met jou lewe.