Robin Williams se dogter het ’n manier gevind om haar pa se nagedagtenis te herdenk.
Zelda het ’n foto op Instagram geplaas van die pragtige huldeblyk aan haar pa – ’n tatoe van ’n kolibrie op haar regterhand en Robin se verjaardag op haar pols.
Die akteur het in Augustus sy lewe geneem in sy huis in Tiburon, Kalifornië.
“Vir poppa,” het sy by die foto geskryf. “Dankie, aan die onvergelykbare @dr_woo_ssc vir hierdie pragtige herinneringe. Ek sal altyd glimlag wanneer ek my hand uitsteek om iemand te groet.”
Sy het ook haar twyfel uitgespreek oor of sy haar Instagram-rekening oop moet hou nadat mense enkele dae ná haar pa se dood haar hierop en op Twitter geteister het.
“Wat hierdie rekening betref, weet ek nie in watter hoedanigheid ek dit in die toekoms sal gebruik nie, maar ek los dit nogtans oop sodat mense wat vals rekeninge wil oopmaak, onsuksesvol sal wees. Ter duidelikheid wil ek sê dit is my enigste rekening. Ek het dit en ’n Twitter-rekening. As ander mense plasings maak in my of my familielede se naam, moet julle dit asseblief ignoreer, al is dit vir liefdadigheid. Hulle kan simpatie gebruik om julle te swendel. Niemand het of sal ooit namens my praat nie. Dankie.”