Julius Malema is weer in die sop: AfriForum het vandag ’n video van die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) uitgereik waarin hy in ’n kitskosrestaurant met iemand in ’n onderonsie betrokke raak. Die voorval het op 6 Augustus plaasgevind.
’n Ongeïdentifiseerde man tik op haar skouer en praat met haar; sy skud haar kop en beduie in die rigting van die uitgang. Die man stap weg en die vrou bestel en betaal vir haar kos.
Die video spring dan vorentoe tot waar die vrou iemand buite die restaurant roep. Sy verlaat dan die restaurant en Cassie Moller kom by die restaurant in, gevolg deur die vrou, wat as Cassie se vrou geïdentifiseer is.
Hy praat met die ander klante, wys na sy horlosie en praat dan in die rigting van die toonbank. Dit is onduidelik met wie hy praat.
Malema kom dan die gebou binne en tik op Cassie se skouer; hy praat met hom en gryp hom aan die arm. Hy swaai dan sy vinger in Cassie se gesig, stoot hom en skree blykbaar op hom.
Cassie het ’n beëdigde verklaring by die polisie ingedien waarin hy beweer Malema het op hom gevloek en hom “’n boer” genoem. Volgens AfriForum beweer Cassie Julius het ook geskree: “Ek sal jou opf**!”
Ernst Roets, ’n adjunk uitvoerende beampte by AfriForum, sê die organisasie het besluit om Cassie te help nadat hy hulle genader het.
‘Die voorval beeld Julius Malema duidelik as ’n boelie uit.’
“Die voorval beeld Julius Malema duidelik as ’n boelie uit wat hom bo die reg en sy medeburgers ag. Ons kan nie toelaat dat openbare verteenwoordigers hulle soos misdadigers gedra sonder dat hulle die gevolge van hul gedrag dra nie.”
Die provinsiale koördineerder vir AfriForum in Limpopo, Morné Mostert, het Cassie Donderdagoggend die klagtes by die polisiekantoor in Tzaneen help indien.
Toe hy om kommentaar genader word het die nasionale woordvoerder vir die EFF, Mbuyiseni Ndlozi, gesê: “Ek het die video gesien; dink jy daar is iets noemenswaardigs in daardie video?” Hy het beloof om terug te bel.