Die departement van korrektiewe dienste het Donderdag geweier om kommentaar te lewer op ’n berig dat die Paralimpiese atleet Oscar Pistorius op sy eerste dag in die tronk hom aan die slaap gehuil het.
“Ons het nog nooit ’n slag-vir-slag-opgawe van hoe ’n oortreder op ’n dag-tot-dag-basis vorder nie,” het die departementele woordvoerder Manelisi Wolela gesê.
“Ons het dit nooit vir ander oortreders gedoen nie en sal dit nie vir hom doen nie.”
Die koerant The Times het bronne aangehaal wat sê Oscar het sy eerste aand by die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria taamlik baie gehuil voor hy aan die slaap geraak het.
“ ’n Mens kon hom hoor. Kort nadat die deure gesluit het, kon jy die trane hoor; hy was gebroke. Die gehuil het aangehou. Ons dink hy het opgehou toe hy aan die slaap raak. Dit was nogal erg,” het ’n bron in die tronk gesê.
’n Ander bron het gesê hy word gedurig gemonitor.
Die koerant het berig sy roetine in die tronk sluit in halfses wakker skrik, ontbyt om seweuur, middagete om twaalfuur en aandete om vieruur – alles in sy sel.
Dit is vandeesweek berig dat hy ’n risiko-en-behoeftebepaling van 21 dae sou begin. Sy oriëntasie sluit in waarskuwings van die gevare, soos bendebedrywighede en smokkelware en bepaling of hy ’n risiko vir selfdood inhou.
Oscar is vyf jaar tronkstraf opgelê vir die strafbare manslag van sy meisie, Reeva Steenkamp. Hy het haar deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria geskiet; hy beweer hy het haar vir ’n inbreker aangesien.
- Sapa