George Clooney en Amal Alamauddin is glo in die Seychelles op wittebrood.
Die egpaar het verlede naweek in Venesië, Italië, afgehaak. En volgens die foto-agentskap X17 vier hulle nou hul status as pasgetroudes by die eksklusiewe oord North Island.
Die oord het in vorige jare gaste soos Brad Pitt en Angelina Jolie en die hertog en hertogin van Cambridge verwelkom.
George en sy nuwe vrou sal glo hul wittebrood geniet in een van die oord se 11 afsonderlike villas wat elkeen sy eie plonspoel het.
Die oord is ook ver weg van nuuskierige oë, want die gaste kan net per helikopter daar uitkom.
“George en Amal het ’n uiters privaat wegbreekplek gesoek en ek vermoed Brad het vir hom gesê om by die oord tuis te gaan,” het ’n bron aan X17Online.com gesê. “Dis een van die mooiste plekke op aarde en George wou Amal iets nog wonderliker as Venesië wys. Dit was die enigste plek wat so ’n uitspattige troue kon oortref.”
Die nuus oor die egpaar se wittebrood kom terwyl nuwe foto’s van hul groot dag op die rakke pryk op die voorblad van die Italiaanse uitgawe van Vanity Fair.
Foto’s van die plegtigheid het ook in Europa in die tydskrif Hello verskyn en in Amerika in die tydskrif People.
En die weelderige troue het beslis die gaste beïndruk – George se nuwe skoonma het dit “legendaries” genoem.
“George en Amal het heelaand liefde uitgestraal,” het sy aan die tydskrif People gesê. “Die troue was ongelooflik spesiaal. Dit was legendaries. Die drie dae – die vriende, die families, die atmosfeer, alles – sal my die res van my lewe bybly.”
© Cover Media