As ’n vrou elke 10 jaar ’n rokgrootte groter word, kan hul kans vir borskanker met 33 persent verhoog, toon nuwe Britse navorsing.
Akademici van die Universiteitskollege van Londen het die ondersoek uitgevoer. Hulle sê hulle het ’n sterk verband gevind tussen die hoeveelheid vet wat om die middel opgegaar is en die risiko vir die vorming van gewasse.
Die kans vir borskanker skiet op tot 77 persent as ’n vrou in ’n dekade twee rokgroottes uitsit.
Die bevinding dat daar ’n verband tussen vetsug en kanker is, is niks nuuts nie en verskeie ondersoeke het al op die onderwerp gefokus. Vorige werk op die gebied het ook getoon vetweefsel stel estrogeen vry wat die gewasse laat ontstaan.
Die nuwe ondersoek se fokus was die gewig wat om die maag aanpak. Daar is voorheen vasgestel dié soort vet is besonder skadelik vergeleke met ekstra gewig aan die boarms, bobene of boude. Daar is bevind maagvet vervaardig meer estrogeen as enige ander deel van die liggaam.
Die resultate is in die joernaal BMJ Open gepubliseer en die navorsing het gefokus op die rekords van 93 000 vroue in hul 50’s en 60’s wat al hul menopouse beleef het. Elkeen moes ’n vorm oor hul leefstyl voltooi waarin hulle besonderhede oor onder meer hul lengte, gewig en rook- en drinkgewoontes moes verskaf.
Hul rokgrootte van toe hul 25 was tot hul huidige ouderdom is ook vergelyk.
Die deelnemers is twee jaar lank dopgehou en daar is ook aangeteken hoeveel van hulle borskanker ontwikkel het. Uit die bevindinge is afgelei dat ’n toename van een rokgrootte die enkele belangrikste aspek was oor of ’n vrou borskanker gekry het of nie.
Vroue tussen 25 en 65 jaar wat in ’n dekade een rokgrootte groter geraak het, se risiko het met 33 persent vergroot en dié wat twee groottes groter geraak het, se risiko het met 77 persent vergroot.
Maar hulle het ook vasgestel dat as ’n vrou in 10 jaar ’n rokgrootte krimp, haar kans met 33 persent afgeneem het.
Maar nie alle kenners stem met die uitslae saam nie. Hulle meen die bevindings is onbetroubaar, want party vroue onthou dalk nie akkuraat watter rokgrootte hulle gedra het toe hulle jonger was nie.
© Cover Media