Nog ’n week, nog ’n distopiese toekomsfliek gegrond op ’n gewilde jeugroman, dié keer deur James Dashner. The Maze Runner (13G) begin waar Thomas (Dylan O’Brien van die TV-reeks Teen Wolf) wakker word in ’n doolhof waar hy vasgevang is saam met ander tienerseuns. Hy kan nie onthou wie hy is of hoe hy daar beland het nie, maar gou besef hy hy en die ander is in lewensgevaar.
Al volg The Maze Runner in die voetspoor van The Hunger Games, Divergent en The Giver, dink die meeste kritici tog dis ’n goeie fliek.
Die webtuiste Rotten Tomatoes, wat die punte bymekaartel wat resensente aan flieks toeken en ’n gemiddelde uitwerk, gee dit 63 persent en bevind: “Met sterk toneelspel, ’n goeie idee vir ’n intrige en ’n verfrissende donker aanslag op ’n distopiese milieu, troon die fliek uit bo die res in die stampvol tienerwetenskapsfiksie-genre.”
‘Dis opwindend, vol kinkels en geheimsinnig’
Chris Nashawaty van die Amerikaanse tydskrif Entertainment Weekly gee dit ’n B-.
“Die eerste twee derdes van The Maze Runner bou ’n fantasiewêreld op ’n slim en indrukwekkende manier. Dis opwindend, vol kinkels en geheimsinnig,” skryf hy. “Maar die belowende begin lewer soveel vrae en legkaartstukkies op dat teen die tyd dat als verduidelik word, jy ’n bietjie om die bos gelei voel.”
Ben Kendrick van screenrant.com gee dit drie sterre. “Dié fliek sal nie so ’n groot gehoor trek soos die Hunger Games-franchise nie, maar The Maze Runner is beslis beduidend beter as die meeste flieks gegrond op jeugromans – met ’n hele paar innemende karakters, intelligente drama asook ’n klomp aangrypende wetenskapsfiksie-idees.”
As jy lus is vir ’n outydse skop, skiet en boomklim fliek kan jy gerus The Equalizer (16GT) gaan kyk. Dis gegrond op die gelyknamige TV-reeks van die 80’s met Edward Woodward.
Denzel Washington speel McCall, ’n menssku man met ’n geheimsinnige verlede wat by ’n ysterwarewinkel werk en mense in nood probeer help. Toe hy sien hoe ’n jong prostituut (Chloë Grace Moretz van Kick-Ass) aangerand word, vermoor hy haar koppelaar, wat die Russiese mafia op sy spoor sit.
Die meeste resensente dink die fliek is heel skaflik.
Dit kry 59 persent by Rotten Tomatoes en hulle bevind: “The Equalizer is stylvoller gewelddadig as wat dit betekenisvol is, maar met die regisseur Antoine Fuqua (Training Day) agter die lens en Denzel wat geregtigheid laat seëvier, is dit bevredigend.”
Die Britse fliektydskrif Empire se Kim Newman gee dit drie sterre.
“Al is dit te lank en effens lomp, is dit ’n heel aanvaarbare fliek gebou om Denzel se sterstatus en bevat meer as genoeg morele verontwaardiging en weerwraak om jou aand met bogemiddelde opwinding te vul.” Peter Travers van Rolling Stone gee dit twee en ’n half uit vier sterre.
‘Washington en Fuqua hou die aksie goed op dreef’
“Die bronmateriaal se ouderdom is tasbaar, maar Washington en Fuqua hou die aksie goed op dreef. Die fliek voel lank, maar toe Washington die psigotiese Russiese mafiabaas (Marton Csokas) laat les opsê, is dit ’n groot plesier, en Washington is soos altyd koel verby.”
Dit speel af in Skotland en fokus op twee soldate, Davy (George MacKay) en Ally (Kevin Guthrie), wat terugkeer uit Afganistan en weer in die samelewing probeer inpas. Ally en Davy se suster, Liz (Freya Mavor), beplan hul troue en Davy ontmoet ’n oulike verpleegster, Yvonne (Antonia Thomas). Intussen steek Davy se pa (Peter Mullan van War Horse) iets weg vir sy vrou (Jane Horrocks van die TV-reeks Absolutely Fabulous).
Die meeste kritici dink dis ’n goeie fliek.
Dit kry 66 uit 100 op die webtuiste Metacritic, wat op dieselfde grondslag as Rotten Tomatoes werk. Ian Freer van Empire gee dit drie sterre.
“Dit bevat dalk nie die subtiliteit en emosionele trefkrag van ’n intieme musiekblyspel soos Once nie, maar Sunshine on Leith is ’n opgeruimde, vrolike, groothartige glimlag van ’n fliek,” skryf hy.
Emma Morgan van die Britse filmtydskrif Total Film is nog ingenomer daarmee en gee dit vier sterre. “Die rolprent bevat soveel gees en blydskap dat jy maklik ’n ongemaklike oorskakeling na ’n liedjie, ’n wankelrige aksent of goedkoop kameraskoot uit die lug kan vergewe.”
Daar is ’n slag weer ’n fliek vir die jongspan op die kringloop.
Die tekenprent Planes: Fire & Rescue (O) is die opvolg op Pixar se Planes (2013) en speel af in dieselfde wêreld as Cars (2006). Dit beteken daar is geen mense nie en die vliegtuie, treine en karre is almal “lewendig”.
Dusty (met die stem van Dane Cook) die vliegtuig word genoop om op te hou deelneem aan resiese nadat sy enjin beskadig word. Hy word gestuur vir opleiding as ’n brandbestryder en reddingswerker en vind dit aanvanklik vervelig tot ’n bosbrand uitbreek.
Die meeste resensente dink die fliek is maar flou.
Dit kry 44 persent op Rotten Tomatoes en die konsensus is: “In vergelyking met die beste gesinsvriendelike flieks is dit vervelig en voorspelbaar, maar Planes: Fire & Rescue is gangbare afleiding vir jong kykers.”
Empire se Olly Richards gee dit twee sterre en voel dis tog beter as Planes omdat dit beter grappies, beter stemkuns en darem ’n bietjie emosie bevat.
‘Maar die intrige bevat geen verrassings nie.’
“Maar die intrige bevat geen verrassings nie en die animasie is op TV-standaard,” skryf hy.
“Dit voel nie asof iemand juis lus was om dié fliek te maak nie.”
Catherine Bray van Time Out gee dit een ster. “Dis vreemd dat die fliek nie een innemende of onvergeetlike karakter het nie,” skryf sy. “Dit voel soos ’n videopoging uit die 90’s eerder as ’n silwerskermfliek met al die talent van Pixar daaragter.”
Die Oscar-bekroonde Italiaanse film The Great Beauty (13TSD) handel oor die joernalis Jep Gambardella (Toni Servillo) wie se hoë status in die letterkunde- en sosiale kringe van Rome berus op sy enigste roman. Dekades voer hy al ’n dekadente, swierige bestaan, maar toe sy 65ste verjaardag saamval met ’n skokkende ontdekking uit sy verlede, neem Jep sy lewe opnuut in oënskou.
Die resensente is mal oor dié film.
‘Die fliek se ambisie is bedwelmend.’
Dit kry 91 persent op Rotten Tomatoes, waar dit beskryf word as “indrukwekkend ambisieus, beeldskoon verfilm en totaal en al betowerend”. Kevin Harley van Total Film gee dit vier sterre en beskryf dit as ’n simfonie oor die verveligheid van die rykmanslewe. “Die fliek se ambisie is bedwelmend,” skryf hy.
Geoff Pevere van die Kanadese koerant The Globe and Mail gee dit drie en ’n half uit vier sterre. “The Great Beauty is ’n verruklike blik op lustelose weelderigheid, ’n fantasie van dekadente rykdom en skoonheid wat herinner aan Fellini se La Dolce Vita (1960) met ’n tikkie van die regisseur Baz Luhrmann (Moulin Rouge!) se styl,” skryf hy.
James Franco (127 Hours) en Kate Hudson (How to Lose a Guy in 10 Days) vertolk die hoofrolle in die misdaadriller Good People (16GT).
’n Amerikaanse paartjie raak diep in die skuld terwyl hulle ’n huis in Londen restoureer, wat beteken hulle kan als verloor.
Maar dan ontdek hulle die inwoner van die woonstel onder hulle is vermoor en het $40 000 kontant agtergelaat. Hulle vat die geld en besluit hulle gaan net genoeg gebruik om hul skuld te delg, maar hulle begin ál meer geld uitgee en dit trek die aandag van ’n gevaarlike dief.
Die meeste resensente dink die fliek is maar louwarm.
Dit kry 40 uit 100 op Metacritic, en Frank Scheck van die Amerikaanse tydskrif The Hollywood Reporter voel “Good People volg ’n oorbekende riller resep sonder om enigsins aangrypend te wees”. Rex Reed van die New York Observer gee dit twee uit vier sterre en sê dis vreeslik gewelddadig, maar heeltemal volgens formule en sonder spanning.
- Sandra Visser