Justin Bieber het na bewering oor die naweek sy buurt op sy kop gekeer. Hy het glo tot drieuur soggens partytjie gehou en is ook Sondag (26 Mei) op ’n Segway sien rondry saam met ’n vriend wat na bewering dagga gerook het.
Justin Bieber het na bewering oor die naweek sy buurt op sy kop gekeer.
Die polisie het Maandagaand (27 Mei) onverwags opgedaag by die 19-jarige sanger se huis in Calabasas, Los Angeles, nadat hulle tallose klagtes van bure ontvang het dat hy met sy Ferrari rondjaag. Hy het glo die afgelope paar dae verskeie keer tot drieuur soggens partytjie gehou en is ook Sondag (26 Mei) op ’n Segway sien rondry saam met ’n vriend wat na bewering dagga gerook het.
Bronne het aan die skinderwebtuiste TMZ.com gesê vele van sy bure in die omheinde buurt het die polisie twee keer die afgelope vyf dae gebel oor sy raserige partytjies.
Die bure beweer ook die Boyfriend-sanger, wat ’n aan-af-verhouding met Selena Gomez het, ry gereeld “roekeloos” met sy motor en motorfiets in die gebied rond. Hulle beskuldig hom ook daarvan dat hy amper teen ’n ander motor vasgery het toe dit Sondag by ’n oprit uitgery het.
Die huiseienaarsvereniging wil nou stappe doen deur vas te stel of Jusin die reëls oortree deur tegnies ’n onderneming uit sy huis te bedryf. Hulle het reeds gevra die polisie moet enige motors wegsleep wat Justin se vriende oornag op straat parkeer.
Die gewese NFL-ster Keyshawn Johnson, wat in dieselfde buurt woon, het Justin glo Maandagaand (27 Mei) oor sy roekelose bestuurdery probeer konfronteer nadat hy hom in sy Ferrari sien jaag het, maar die sanger het die huis binnegehardloop.
Steve Whitmore, ’n woordvoerder van die sheriff van Los Angeles, het gesê: “Die inbellers het gemeld dat Bieber teen ’n blitsige spoed ry. Minstens een kind het in die gebied gespeel waar Bieber na bewering gery het.”
Hy het bygevoeg die saak sal op ’n later datum aan die staatsaanklaer van Los Angeles voorgelê word.
Die rits klagtes oor die popster se gejaag terwyl kinders buite gespeel het, kom net twee maande nadat die Beauty and the Beat-sanger na bewering gedreig het om ’n buurman dood te maak. Hy het na bewering op hom gespoeg nadat dié hom daaroor aangespreek het dat hy in hul rustige buurt met sy Ferrari jaag.
Die staatsaanklaer oorweeg tans die saak en sal na verwagting binnekort ’n besluit neem.