Die Formule Een-renjaer Michael Schumacher gaan tuis aansterk nadat hy laat verlede jaar ’n kopbesering opgedoen het, het sy bestuur Dinsdag gesê.
Michael (45) is in Junie ontslaan uit die Franse hospitaal waar hy ná sy ongeluk ses maande lank van sy ernstige breinbeserings herstel het.
Hy het sy rehabilitasie voortgesit by die universiteitshospitaal in Lausanne, Switserland.
“Voortaan sal Michael se rehabilitasie tuis plaasvind,” het sy bestuurder, Sabine Kehm, in ’n verklaring gesê.
“Met inagneming van die ernstige beserings wat hy opgedoen het, het hy in die afgelope weke en maande vordering getoon. Tog lê daar nog ’n lang, moeilike pad voor.”
Die Duitse renjaer het op 29 Desember in die Meribel-oord geski en sy kop teen ’n rots gestamp.
Daar is twee keer op hom geopereer voor hy in ’n geïnduseerde koma geplaas is. Dokters van die universiteitshospitaal in Grenoble, Frankryk, het hom in Januarie stadig begin ontwaak.
Sabine het die span by die Lausanne-universiteitshospitaal bedank vir die sorg wat Michael daar ontvang het.
“Ons vra dat die privaatheid van Michael se gesin steeds gerespekteer word, en dat mense nie bespiegel oor sy toestand nie,” lui die verklaring.