Op 10 Junie het die premier se kantoor ingestem om prof. Wannie Carstens met R115 000 vir emosionele lyding te vergoed. Dit was die dag voor die saak in ’n hof in Mahikeng gehoor sou word.
Twee bande op sy Mercedes-Benz het gebars toe hy in 2012 ’n slaggat naby Ottosdal tref. Hy was onderweg na sy ma, Dot, se begrafnis in Upington in die Noord-Kaap. Hy en sy vrou, Wilma, was ongedeerd, maar het die begrafnis misgeloop.
Prof. Carstens, die direkteur van die Noordwes-universiteit se Skool vir Tale, moes die geld op 30 Junie vanjaar ontvang het, maar dit is nie betaal nie. Sy prokureur Cerneels Lourens het gesê hy sou verrigtinge begin om beslag te lê op roerende bates wat aan die premier se kantoor behoort.
’n Waarnemende woordvoerder vir die premier se kantoor, Bonolo Maohlakoana, het gesê ’n betaling is goedgekeur en sal na verwagting vandeesweek gemaak word.
Prof. Carstens het gesê hy streef nie die saak na vir die geld nie, maar om die regering aanspreeklik te hou.
- Sapa