Kan aksiebelaaide TV jou vet maak? ’n Onlangse ondersoek dui daarop mense peusel meer terwyl hulle vinnige televisie kyk as wat hulle ’n rustiger geselsprogram kyk.
Navorsers aan die Cornell-universiteit het bykans 100 studente lukraak aangesê om ’n sessie van 20 minute van een van die volgende te kyk: The Island, ’n wetenskapsfiksieriller van 2005 met Scarlett Johansson en Ewan McGregor in die hoofrolle; dieselfde rolprent, maar sonder klank; die Charlie Rose-program, ’n geselsprogram op openbare televisie. Die studente het almal ruim hoeveelhede koekies, M&M-lekkers, wortels en druiwe gekry.
Tydens The Island het die studente gemiddeld sowat 207 g van verskeie peuselkosse geëet en 1481 kilojoules elk ingeneem. Dit was amper 586 kilojoules meer en amper dubbel die hoeveelheid wat hulle geëet het terwyl hulle na die onderhoudvoerder Charlie Rose gekyk het. Terwyl hulle die fliek sonder klank gekyk het, het hulle ook meer geëet – amper 420 kilojoules meer – vergeleke met Charlie Rose.
DIE TEORIE: Die vinniger TV het blykbaar die kykers se aandag meer afgelei en tot onbewustelike etery bygedra, sê Aner Tal, ’n navorser van Cornell en die hoofskrywer van die ondersoek. Die uitslae dui daarop dat ’n standvastige dieet van aksie-TV die risiko vir gewigstoename kan verhoog.
BEPERKINGS: Die ondersoek was klein en het nie lank genoeg geduur om enige uitwerking op lang termyn op die studente se gewig te meet nie. Dit is ook moontlik dat party kykers geselsprogramme of ander stadiger programme as meer afleidend kan ervaar en meer geneig sal wees om tydens daardie programme te peusel as wanneer hulle aksiebelaaide programme kyk.
DIE AANBEVELING: Aner stel voor kykers doen moeite om te voorkom dat hulle onbewustelik peusel deur kilojouleryke peuselgoed te vermy of te beperk wanneer hulle televisie kyk.
Bron : Sapa-AP /kn