Justin Bieber het Selena Gomez op haar verjaardagpartytjie met ’n enkele rooi roos verras. Die 19-jarige sanger het ’n blaaskans van sy Believe-toer gevat en na Malibu in Kalifornië gevlieg om die brunet se 21ste verjaardagpartytjie by die Revolve Clothing-strandhuis by te woon. Die partytjie is Saterdagaand 27 Julie gehou en het ’n sigeunertema gehad.
’n Bron het gesê: “Justin het spesiaal vir die partytjie ’n dag van sy toer afgevat en hierheen gevlieg. Hy het nie ’n kostuum aangehad nie, net ’n enkele rooi roos in sy hand.”
Die sanger was in ’n swart-en-groen baadjie en donker jeans uitgevat. Hy het kort ná middernag saam met sy vriend Jaden Smith (15) met sy sportmotor met ’n luiperdvelpatroon na die geleentheid gery en reguit na Selena gestap toe hy by die partytjie aankom.
Hy en Selena was alte danig met mekaar en hulle is glo tweeuur die oggend saam by die strandhuis weg.
Sterre soos Julianne Hough en haar broer, Derek, Nina Dobrev en Ashley Benson het ook saam met Selena partytjie gehou nadat sy op Maandag 22 Julie 21 geword het. Die gaste het aan ’n keur van Mediterreense kos weggelê en drankies weggesluk toe Selena se verjaardagliedjie gespeel is.
’n Bron het aan Us Weekly gesê: “Almal het gedans en dit gate uit geniet, veral Selena, wat deur haar vriende omring was.”