Regterpresident Frans Kgomo het Woensdag in die Noord-Kaapse hooggeregshof in Kimberley aan die jong Griekwastad-moordenaar gesê hy moet die gevolge van sy dade dra.
‘Oor twee dae is jy ’n man.’
“Oor twee dae is jy ’n man. Wees nou ’n man,” het Kgomo aan die 17-jarige seun gesê voor hy hom effektief tot 20 jaar tronkstraf gevonnis het.
Die seun, wat Vrydag 18 word, is gevonnis weens die moord op die Griekwastad-boer Deon Steenkamp (44), sy vrou, Christel (43) en hul dogter, Marthella (14). Hulle is op 6 April 2012 op hul plaas, Naauwhoek, doodgeskiet. Die seun is ook skuldig bevind aan die verkragting van Marthella en regsverydeling.
Kgomo het hom soos volg gevonnis: 20 jaar vir elk van die drie moorde, 12 jaar vir verkragting en vier jaar vir regsverydeling. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.
Die regter het gesê al het die staat vir die maksimum straf gevra, was hy bereid om die vonnis aan te pas omdat dit die seun se eerste oortreding is en hy die kans het om gerehabiliteer te word.
Kommerwekkend
Die hof het saamgestem dis kommerwekkend dat die seun tydens die verhoor volgehou het hy is onskuldig.
Kgomo het ook saamgestem dat die seun tydens sy tronkstraf intensiewe terapie moet kry. Dit sluit programme in wat verband hou met die eindelike toon van smart. Hiermee saam het die hof ook bevind die seun het as minderjarige nie onder die invloed van ander opgetree nie.
Byna al die polisiebeamptes wat betrokke was by die saak, plaaslik sowel as nasionaal, was Woensdag in die hof.
Die groep, asook die slagoffers se familielede, het die banke van die aanklaer, Hannes Cloete, se lessenaar tot aan die agterkant van die hof vol gesit.
Aan die ander kant van die hofsaal het ’n veel kleiner groep gesit: die seun se voog en familie, asook verteenwoordigers van die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Oortreders.