Pistachioneute word beskou as ’n lekker peuselhappie terwyl jy fliek of ’n drankie in ’n kroeg geniet; daarom is dít beslis goeie nuus: Diabete wat elke dag pistachioneute eet, se liggaam kan die simptome van suikersiekte beter baasraak.
In ’n studie deur die Pennsilvanië-staatsuniversiteit is bevind 150 neute, oftewel 85 g, per dag kan mense wat aan tipe 2-diabetes ly meer ontspanne maak, hul bloeddruk verlaag en hul bloedvate verwyd. Tipe 2-diabetes kom voor wanneer die liggaam nie genoeg insulien vervaardig om behoorlik te funksioneer nie, of as die liggaam glad nie op insulien reageer nie.
Die eksperiment, wat in die Joernaal van die Amerikaanse Hartvereniging gepubliseer is, het twee diëte met dieselfde hoeveelhede kalorieë behels. Dit het begin met ’n inname van 36 persent vet en 12 persent versadigde vet vir twee weke, en daarna is deelnemers gevra om vier weke lank een van twee diëte te volg.
Een eetplan het 27 persent vet en sewe persent versadigde vet bevat, asook twee porsies pistachioneute per dag (sowat 85 g). Dit was bekend as ’n standaard-opsie wat goed is vir hartgesondheid, en die neute het sowat 33 persent vet en sewe persent versadigde vet bevat. Gelyke porsies gesoute en ongesoute neute is verskaf.
Die dieet met pistachioneute het ’n positiewe impak op individue gehad, het Sheila West, ’n professor in biogedragsgesondheid en voedingswetenskap, bevind. Deelnemers moes twee strestoetse – ’n uitdaging waar een hand twee minute lank in ysige water geplaas is en ’n ingewikkelde berekening – ondergaan, waarna die bloeddruk en perifere vaskulêre weerstand getoets is.
“Die volwasse diabete wat daagliks twee porsies pistachioneute per dag ingeneem het, se are het minder vernou in stresvolle situasies en die neurale beheer van die hart was beter,” sê Sheila. “Nadat die pistachio-dieet gevolg is, het bloedvate tydens die strestoeste ontspanne en oop gebly.”
Die navorser Katherine Sauder het bygevoeg: “Ons het bevind pistachioneute het tydens slaap veral op sistoliese bloeddruk (boonste lesing) ’n uitwerking. Die gemiddelde bloeddruk tydens slaap was met sowat vier punte laer en dit sal na verwagting die hart se werklading verminder.”
Die neute moet egter nie as ’n kuur vir daaglikse stres ingespan word nie. “Tydens die wiskundetoets was die deelnemers steeds gefrustreerd en kwaad. Die pistachiodieet het hul liggaam se reaksie op stres verminder, maar neute is nie ’n kuur vir die emosionele spanning wat ons in ons daaglikse lewe ervaar nie,” sê Sheila.
© Cover Media