Toeriste in noordelike Australië is stomgeslaan nadat twee diere mekaar die stryd aangesê het – ’n massiewe soutwaterkrokodil het met ’n bulhaai in sy kake gestoei.
Andrew Paice was Dinsdag op ’n uurlange wildbootrit saam met sy maat en sewejarige dogter toe hulle iets ongewoons op die rivieroewer opmerk.
Hulle het vroeër toegekyk hoe krokodille, insluitend die reuse, 5,5 m lange Brutus, uit die water spring om ’n stuk buffelvleis te eet wat iemand aan ’n paal vasgehou het.
“Dit was op pad terug na die hawehoof. Ons het weer verby Brutus beweeg; hy was op die oewer,” het Andrew Woensdag uit die Kakadu nasionale park in Australië se Noordelike Gebied aan AFP vertel.
“Soos ons verbygevaar het, het ons agtergekom daar is ’n vin. Ons het gedink dit is ’n barramundi (’n vis) of so iets.
“Die gids neem toe die boot nader sodat ons kon kyk en so waarlik, dit was ’n haai.”
Brutus is sowat 80 jaar oud en het ’n voorpoot en die meeste van sy tande verloor. Hy is welbekend in die gebied, en Northern Territory News het dit beskryf as ’n stryd tussen kake en kloue.
Mense bespiegel nou dit was ’n geval van wraak omdat Brutus vermoedelik sy poot afgestaan het aan een van die haaie wat daar naby leef.
“Maar volgens ander mense was dit eerder ’n groot krokodil (wat sy voorpoot afgebyt het). Maar wie weet? Dit was óf ’n krokodil óf ’n haai,” het Andrew gesê.
Hy het gesê die ervaring het sy dogter “stomgeslaan”.
“So ook die res van die mense (aan boord), insluitend die gids; hy het in sy 30 jaar daar nog nooit so iets gesien nie. Hy was so opgewonde.”
Northern Territory News het berig Brutus het in die titaniese stryd met die haai koning gekraai, maar Andrew het gesê hy is nie so seker nie.
“Toe ons die eerste keer verby is, het die krokodil daar gelê met die haai in sy bek,” het hy gesê.
“Toe ons die boot nader bring, is dit weer die water in. En toe die haai water raak, het dit begin spartel.
“Dit het dus beslis nog geleef. Ons kon nie bloed sien nie,” het hy gesê, en het bygevoeg Brutus het nog net ’n paar tande oor.
“Die haai kon ontsnap het of Brutus kon dit geëet het – ons weet nie. Ons kon ongelukkig nie dit sien nie.”
- Sapa