Die dood van ’n geliefde is een van die moeilikste gebeurtenisse om te verwerk. Dit kan die een wat agterbly se lewe ontwrig en dit is baie belangrik dat hul naastes hulle die regte steun gee. Dit is soms moeilik om te weet wat om te sê of te doen sonder dat jy nog smart veroorsaak. Die beste raad is om die treurende se leiding te volg. Almal verwerk verlies op hul eie manier. Dit is ’n baie persoonlike ervaring. Moenie aan hulle probeer voorskryf hoe jy in jou lewe smart oorkom het nie.
Dit is ook belangrik om soveel moontlik op die hede te fokus. Moenie probeer voorspel wat voorlê nie, want jy weet nie. Moet ook nie op die verlede haper nie, want jou geliefde se vroeëre geluk is nie ’n regverdige verruiling vir die pyn wat hulle nou ervaar nie.
‘Moenie dink nie, doen net.’
Hou die leuse “Moenie dink nie, doen net” in gedagte wanneer jy met ’n treurende te doen het.
Moet byvoorbeeld nie sê “bel my as jy iets nodig het nie”, want hulle sal nie bel nie – nie omdat dit nie vir hulle nodig is nie, maar omdat hulle waarskynlik nie in hierdie stadium daartoe in staat is om ’n behoefte te identifiseer, uit te pluis wie die behoefte die beste sal vervul en die foonoproep te maak nie.
Bied eerder tasbare goed aan soos “Ek sal sesuur Dinsdag vir jou kom kuier en vir jou kruideniersware bring/met die hond gaan stap”. Al kan jy nie die werklike, swaar werk van treur vir jou vriend doen nie, kan jy die las van “normale” lewensvereistes vir hulle verlig.
Ondersteun jou vriend op klein, gewone maniere – dit is tasbare bewyse van liefde. Maar oppas om nie iets te doen wat nie omkeerbaar is nie. Moet byvoorbeeld nie aanbied om die wasgoed te was wanneer jy dalk ’n hemp kan was wat ’n kosbare reuk van ’n geliefde se parfuum of naskeermiddel aan het nie.
As jy baie na aan die treurende is, kan jy vir hulle die las verlig deur met ander vriende of kennisse te skakel wat wil hoor hoe dit met hulle gaan. Dit kan uitputtend en ontstellend wees om dieselfde gesprekke oor en oor te herhaal. Tree dus as die woordvoerder op en gee namens jou vriend op ’n subtiele manier die inligting wat hulle nodig het.
© Cover Media