Die Oscar-wenner Sandra Bullock is die afgelope jaar Hollywood se bes betaalde aktrise met ’n geraamde inkomste van sowat R535 miljoen, het die tydskrif Forbes Maandag berig.
Sandra (50) het in 2010 ’n Oscar vir haar rol in die voetbaldrama The Blind Side gewen. Haar vet salaristjek die afgelope jaar is grotendeels danksy haar rol in die trefferfliek Gravity, wat haar ’n Oscar-benoeming vir die beste aktrise besorg het.
Die fliek, ’n fees van spesiale effekte, handel oor ’n ruimtevaarder se stryd om oorlewing nadat ’n ruimtetuig vernietig is. Die fliek het sewe Oscars ingeryg en R7,5 biljoen laat inrol.
Die Hunger Games-aktrise Jennifer Lawrence het die afgelope jaar die tweede plek op die lys behaal met R357 miljoen. Jennifer Aniston beklee die derde plek met R325 miljoen, gevolg deur Gwyneth Paltrow, wat die afgelope jaar R199 miljoen verdien het.
Angelina Jolie en Cameron Diaz het gesamentlik die vyfde plek beklee met R189 miljoen, wat hulle tussen Junie verlede jaar en Junie vanjaar verdien het.