Quantcast
Channel: Huisgenoot
Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Ebola-sterftesyfer in Wes-Afrika bereik 887

$
0
0

Die dokter wat ’n man behandel het wat Nigerië toe gereis het en aan Ebola dood is, het ook nou die siekte opgedoen, het amptenare Maandag gesê. Dis ’n ernstige uitdaging vir Afrika se digsbevolkte land. Intussen staan die sterftesyfer in die streek nou op 887.

Soos Nigeriese gesondheidsamptenare ander wat daaraan blootgestel is, inderhaas onder kwarantyn geplaas het, het ’n spesiale vliegtuig Liberië verlaat met ’n Amerikaanse sendeling wat die siekte opgedoen het. Nancy Writebol (59) gaan na verwagting Dinsdag in Atlanta aankom, waar sy in ’n spesiale isolasiesaal behandel gaan word.

Die tweede bevestigde geval in Nigerië is ’n dokter wat Patrick Sawyer behandel het, die Liberies-Amerikaanse man wat op 25 Julie oorlede is nadat hy van Liberië Nigerië toe gereis het, sê die Nigeriese gesondheidsminister, Onyebuchi Chukwu.

Nog drie wat Patrick behandel het, toon nou simptome van Ebola, maar daar word nog gewag op hul toetsuitslae, sê hy. Die owerheid probeer ander opspoor en onder kwarantyn sit in Lagos, Afrika besuide die Sahara se grootste stad met ’n bevolking van 21 miljoen.

‘Hierdie groep gevalle in Lagos, Nigerië, is baie kommerwekkend.’

“Hierdie groep gevalle in Lagos, Nigerië, is baie kommerwekkend,” sê dr. Tom Frieden, die Amerikaanse Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming se direkteur. Hulle stuur nou 50 ervare siektebeheerspesialiste na Wes-Afrika.

“Dit wys wat gebeur wanneer noukeurige infeksiebeheer, kontak-opsporing en behoorlike isolasie van pasiënte met vermeende Ebola nie gedoen word nie. Dit gaan moeilik wees om die verspreiding in Lagos te keer, maar dit is moontlik,” het hy gesê.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het Maandag aangekondig die sterftesyfer het van 729 gestyg tot 887 weens sterftes in Guinee, Sierra Leone, Liberië en Nigerië.

Gevalle in Liberië het toegeneem van 156 tot 255, het die WGO gesê, en die regering het beveel alle Ebola-slagoffers moet veras word weens toenemende teenstand teen begrafnisse in buurte na aan die hoofstad. Die afgelope naweek is die polisie ontbied ná ’n konfrontasie oor of gesondheidsowerhede meer as 20 slagoffers kon begrawe in ’n buurt aan die buitewyke van die hoofstad, Monrovië.

Simptome kan eers na 21 dae wys

Sierra Leone het Maandag ’n nasionale tuisblydag gehou om die siekte se verspreiding te probeer keer. Die nasionale uitsaaier het met tussenposes ’n dokumentêr oor die eerste Ebola-uitbreking in die Kongo uitgesaai.

Die verskyning van ’n tweede geval in Nigerië gee aanleiding tot ernstige kommer oor die infeksiebeheer-praktyke daar; dit laat ook die moontlikheid ontstaan dat nog gevalle aan die lig kan kom. Dit kan tot 21 dae ná blootstelling aan die virus wees voor simptome wys.

Dit sluit in koors, keelseer, spierpyn en hoofpyn. Dikwels volg naarheid, braking en diarree, tesame met kwaai inwendige en uitwendige bloeding in die gevorderde stadium van die siekte.

“Dit pas presies by die patroon wat ons in die verlede gesien het: Óf iemand raak siek en steek hul familielede aan óf hulle gaan hospitaal toe en die werkers raak siek,” sê Gregory Hartl, ’n WGO-woordvoerder in Genève.

“Dis baie jammer, maar dis nie onverwags nie. Dit was ’n siek man wat van ’n vliegtuig geklim het, en ongelukkig het niemand geweet hy het Ebola nie.”

Dokters en ander gesondheidswerkers aan die voorlinies van die Ebola-krisis is die kwesbaarste vir aansteking omdat hulle in direkte aanraking met pasiënte is.

Die siekte versprei nie deur die lug nie en word net oorgedra deur aanraking met liggaamsvloeistowwe soos speeksel, bloed, sweet of ontlasting.

Patrick, wat Nigerië vir sake besoek het, het op ’n vlug siek geraak en Nigeriese amptenare het hom by sy aankoms in Lagos onmiddellik afgesonder. Hulle het nie medepassasiers in kwarantyn geplaas nie en het daarop aangedring dat die risiko vir nog gevalle laag is.

Die Nigeriese owerheid sê altesaam 70 mense is onder toesig en hulle hoop om teen die einde van Maandag agt mense in ’n isolasiesaal in Lagos in kwarantyn te hê.

Om al die mense op te spoor wat met Patrick en sy versorgers kontak gehad het kan in hierdie laat stadium moeilik wees, sê Ben Neuman, ’n viroloog en Ebola-kenner aan die Universiteit van Reading in Brittanje.

“Kontak-opsporing is noodsaaklik, maar dis baie moeilik om genoeg mense te kry om dit te doen,” het hy gesê.

“Vir die deursnee-geval moet jy terugkyk en die tussen 20 en 30 mense opspoor waarmee hulle die nouste kontak gehad het; dit verg baie moeite en loopwerk.

“Die belangrikste is nou die kontak-opsporing en om al die kontakte in kwarantyn te plaas wat dalk simptome toon.”

- Bashir Adigun en Jonathan Paye-Layleh/AP


Viewing all articles
Browse latest Browse all 9424

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>