Pippa Middleton was een van die familielede wat afgesit het Kensington-paleis toe om haar susterskind, die prins van Cambridge, te ontmoet nadat hy en haar ousus vroeër die dag uit die hospitaal ontslaan is.
Catherine, Pippa se suster en die hertogin van Cambridge, is Dinsdag uit die hospitaal ontslaan en het daarvandaan na die paleis gegaan. Daarna het sy en haar man, prins William, hul eersteling se koms intiem gevier, waarna familielede die derde troonopvolger kon ontmoet. Daar is nog nie op sy naam besluit nie.
Die 29-jarige partytjiebeplanner het saam met haar kêrel, Nico Jackson, by die paleis in die weste van Londen opgedaag kort nadat haar suster-hulle op pad terug van St. Mary-hospitaal daar aangekom het.
Die koninklike egpaar, wat in Junie 2011 getroud is, sal waarskynlik twee weke in die paleis deurbring terwyl William met vaderskapverlof van die koninklike lugmag is.
Catherine en die baba sal daarna ses weke lank by haar ouers in Buckinghamshire tuisgaan.
Terwyl hulle Dinsdagaand vir die eerste keer saam met hul seun, wat op Maandag 22 Julie gebore is, voor die hospitaal vir foto’s poseer het, het die trotse William gesê: “Hy het ’n goeie paar longe, dis vir seker. Hy is groot en nogal swaar. Ons dink nog aan ’n naam en sal dit so gou moontlik hê, maar ons het hom nou vir die eerste keer behoorlik gesien.”
Op haar beurt het Catherine gesê: “Ek voel baie emosioneel. Dis so ’n spesiale tyd. Ek dink enige ouer kan op ’n manier verstaan hoe dit voel.”
William het beaam: “Dis baie spesiaal.”