Suid-Afrikaners moet regmaak vir ’n intense naderende kouefront, het die Suid-Afrikaanse Weerdiens Vrydag gewaarsku.
“Die kouefront sal die Wes-Kaap teen die middag (Vrydag) tref en sal na verwagting swaar reën bring, wat tot vloede kan lei,” het die weervoorspeller Vanetia Phakula gesê.
Dele van die Kaapse Metropool, die Overberg en die Kaapse Wynland kan vloede ervaar weens die reën wat na verwagting tot Saterdag sal aanhou.
Daar is ook ’n moontlikheid dat dit oor hoogliggende gebiede van die Wes-Kaap oornag tot Saterdagoggend sal sneeu, wat sal strek tot in die bergagtige suidelike streke van die Noord-Kaap. “Dit sal tot die Oos-Kaap teen laat Saterdagmiddag strek, met ’n moontlikheid van sneeuval in die hoogliggende gebiede,” het Vanetia gesê.
Chapmanspiek-rylaan in Kaapstad is Vrydag tydelik weens sterk winde gesluit, het die provinsiale vervoerdepartement gesê. “Windspoed van tot 110 km/h is aangeteken,” het ’n woordvoerder, Al-Ameen Kafaar, in ’n verklaring gesê.
Diegene wat tussen Houtbaai en die Atlantiese kus reis, is aangeraai om alternatiewe roetes te gebruik. Sterk winde is dikwels ’n teken dat ’n koue front op pad is. Vanetia het gesê koue temperature oor die Wes-, Oos- en Suid-Kaap sal Saterdag tot sentrale dele van die land versprei, en Kwazulu-Natal Sondag en Gauteng Dinsdag tref.
Die weervooruitsig vir die Durban July-perderesies is ’n verwagte maksimum temperatuur van 29 °C met ’n kans op geïsoleerde reënbuie in die aand.
Die Oos- en Wes-Kaap se temperature behoort teen Maandag te styg en teen Woensdag behoort die koue front die land te verlaat. Dié weerpatroon is tipies vir hierdie tyd van die jaar, het sy gesê.
- Sapa